Die Weg

 

Op weg na ons ewige tuiste

- Alle teksverwysings hieronder is volgens die 1953-vertaling van die Bybel -

“Want die mens gaan na sy ewige huis” - Prediker 12:5 (53-vertaling).

Prediker 12 beskryf digterlik die aftakeling van die mens se liggaam en die uiteinde daarvan. Die mens het hier op aarde geen blywende stad nie (Heb 13:14). In die woorde van die apostel Paulus het die mens hier 'n tydelike tentwoning wat afgebreek sal word (2 Kor 5:1). Elke mens is bestem om een of ander tyd te sterwe. Die dood wag vir almal en die graf is die voorland van almal, sonder aansiens des persoons.

Wat wag dan vir ons? Sal die dood vir ons 'n wins wees of 'n verlies? (Fil 1:2). Die Prediker sê die mens gaan na sy ewige huis. Watter huis wag vir jou en my? Want wat die mens gesaai het, sal hy ook maai. As ons in die vlees gesaai het, sal ons uit die vlees verderf maai, maar as ons in die gees gesaai het, sal ons uit die gees die ewige lewe maai (Gal 6:7-8). En met die maat waarmee ons meet, sal weer vir ons gemeet word (Mat 7:2).

Wat is ons verwagting? Verwag ons die ewige huis van geluksaligheid of die plek van verderf? Waarop bou ons vir die ewigheid? Bou ons op die Rots of bou ons op sand? (Mat 7:26).

Ons is almal pelgrimsreisigers na die ewigheid. Wat neem ons saam op hierdie reis? Wat gebruik ons as reisgids? Het ons God se woord as lamp vir ons voet en lig vir ons pad (Ps 119:105). Dra ons die regte wapens met ons vir die stryd in hierdie lewe? (Ef 6:13-18). Is ons reg geklee vir die pelgrimsreis? Dra ons die kleed van Christus se geregtigheid, rein gewas in sy bloed? (Rom 13:14; Ef 4:24). Wat is die loopstok waarop ons steun? Is dit die krag van God wat lei tot ons saligheid? (Ef 6:10).

Onthou! Dit is nie meer baie lank nie voordat ons die reisgids, die wapens, reiskleed en loopstok nie meer nodig sal hê nie, want dan is ons vir ewig tuis in die Vaderhuis.

Hoe salig behoort dit nie te wees nie?

Ds FJZ Booysen in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css