Die Weg

 

Die woord van die Here, 'n hamer tot inkeer

Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het. Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.” - Jeremia 26:13-15 (53-vertaling).

Die Duitse teoloog Helmut Thielicke het gesê: “die woord van God is nie net 'n oorveeg nie, maar 'n hamer. Wie geen blou kolle daarvan oorhou nie, is nog nie daardeur geraak nie.” En die boodskap van Jeremia aan die volk het baie keer blou kolle agtergelaat. Die skerpte van die waarheid kan wel daartoe lei dat die volk hul harte verhard, maar God verlang dat hulle sal omkeer sodat Hy hulle sy heil kan skenk. Die mense egter soek die dood van die profeet want die waarheid maak seer. Maar Jeremia sê duidelik dat hy nie sy eie mening predik nie, maar dat hy in opdrag van God spreek.

Die oudstes van die volk het teruggedink aan die profeet Miga in die tyd van koning Hiskia. Tóé het die profeet ook die volk vermaan. Die woorde van Miga het egter nie op dowe ore geval soos by Jeremia nie. Die volk het daardie tyd tot inkeer gekom “sodat dit die HERE berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het” (Jer 26:19). Miga is nie doodgemaak nie en die onheil oor die volk was 'n tyd lank afgeweer, maar nou is daar geen sprake van inkeer nie, en die volk soek Jeremia se bloed.

Jeremia was aanvanklik vreesbevange en moedeloos, want die opdrag van God het swaar op sy skouers gelê. Maar God het aan sy sy gestaan en het aan hom die krag gegee om selfs die dood in die oë te staar. Hy het sy krag volkome van God ontvang.

Hoe staan dit met ons, is ons ook bang om die waarheid te verkondig? Is ons bang dat ons ander se gevoelens sal seermaak? Die roep tot bekering is vandag ook nog die uitnodiging van God om na die enigste weg van saligheid terug te keer.

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2020).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css