Die Weg

 

Spyt kom altyd te laat

En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand - iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.” - Jeremia 7:31 (53-vertaling)

En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom wat voor die ingang van die Potskerwepoort lê, en roep daar uit die woorde wat Ek met jou sal spreek.” - Jeremia 19:2 (53-vertaling).

Dan moet jy die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gegaan het, en vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Net so sal Ek hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos ‘n mens ‘n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie; en hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees om te begrawe nie.” - Jeremia 19:10-11 (53-vertaling).

Watter beeld skep dit nie! Die dal van Hinnom was 'n kloof buite die mure van Jerusalem waar sommige konings van Juda hul kinders op die hoogtes van Tofet aan die afgod Baäl geoffer het. En op hierdie afskuwelike plek staan die profeet. Hy neem die kruik wat hy pas gekoop het en gooi dit daar op die plek van die dood aan skerwe, as simbool van die vernietiging van Juda en Jerusalem.

Die leiers van die stad was ontsteld en het met verontwaardig na die profeet geluister. Wat matig hierdie Jeremia hom aan? Waar kom hy daaraan om die heilige stad so sleg te sê? - Hulle kon nie begryp wat daar voor hulle oë gebeur nie. Tog is dit nie die mens nie, maar God self wat hier vermaan en uitroep: “Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie.” (Jer 19:15). Maar die mense van Jerusalem en Juda wou nie ag gee op die woorde van die profeet nie, en het eerder na die woorde van die valse profete geluister. “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom! Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart -  is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?” (Jer 23:25-27).

Daar is 'n spreekwoord wat lui: ”Spyt kom altyd te laat”. Dit sien ons in die woorde van Psalm 137:1: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.” Dit is 'n volk wat treur oor die verowering van hulle land en die verwoesting van alles wat vir hulle dierbaar en heilig was, ook die tempel. In die vreemde verlang die mense na hulle tuiste, na Jerusalem, hul “hoogste vreugde” (Ps 137:6). Daar is geen vrolike liedere wat gesing word nie, net klagtes, frustrasie, wraakgedagtes en heimwee.

Dis 'n volk wat treur, en in hul hartseer keer hulle hul na God. Vir die Jode in Babel was dit duidelik dat wat met hulle gebeur het die gevolg was van hul ongehoorsaamheid omdat  hulle nie na die herhaalde waarskuwings van God se profete geluister het nie. Daarom soek hulle opnuut God se hulp. Hulle hartseer lei tot bekering. En dit is die dieper gevolg van heimwee - die heimwee na geborgenheid by God. Waar droefheid en berou tot bekering lei, daar kom God tot ons redding, want “ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Ps 124:8).

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css