Die Weg

 

Die geloof hou ons staande te midde van beproewings

“En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.” - 1 Petrus 1:5

In 1 Petrus 1:5 hoor ons dat God ons bewaar deur die geloof. Die geloof is soos 'n muur wat rondom ons staan. Soos die stadsmure rondom 'n stad destyds die vyand uitgehou het... só beskerm die geloof ons teen die aanvalle van die Satan.

Die geloof is soos 'n skild waarmee ons die vurige pyle van die bose afweer. En hierdie geloof het twee bene. Eers werk God die geloof deur sy Gees. Hy gee aan my die krag sodat ek as 'n gelowige die lewe tegemoet kan gaan. Dit is die een been.

Die ander been is my verantwoordelikheid om soos 'n gelowige te lewe. My geloof moet werksaam wees! Ja... die geloof moet werk sodat dit nie verroes nie. Geloof maak immers alles in my lewe anders. Geloof maak dat ek met nuwe oë na die lewe kyk; dat ek totaal anders dink en leef as 'n ongelowige.

Vir die gelowige is die swaarkry van hierdie lewe 'n kleinigheid in vergelyking met die vreugde wat vir hom ná hierdie lewe wag. Hy weet: Die Here werk juis deur die swaarkry in hierdie lewe met my. Swaarkry toets die egtheid van my geloof. Swaarkry is die kragoefeninge wat my geloof opbou. Die littekens van swaarkry en beproewings is eie aan en deel van 'n ware geloof.

Daarom moet jy verwag dat jy as gelowige gaan swaarkry ter wille van jou geloof. Jy moet aanvaar dat dit deel is van gelowig wees wanneer die Here die egtheid van jou geloof toets. En daarmee saam: Dank God! Want... deur die werking van sy Gees sal Hy my dwarsdeur elke geloofstoets staande hou in die geloof.

Ds. J.H. Howell
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css