Die Weg

 

As troos in my vreemdelingskap

Ek is 'n vreemdeling op aarde” - Psalm 119:9a (53-vertaling)

Ek is 'n vreemdeling op aarde – daarmee erken ek dat ek nie vir altyd hier kan bly nie; dat my tyd kort en afgemeet is. Dit is nie my tuiste nie, en wat ek hier tot my beskikking het, behoort nie aan my nie en sal ook hier moet agterbly. Ek moet dankbaar wees vir al die goedheid wat ek ervaar. En as onreg en geweld my ten deel val, sal ek lyding ervaar sonder dat iemand vir my sal intree. Ek het geen houvas op enige mense of dinge nie. Omdat ek 'n vreemdeling is, moet ek my onderwerp aan die wette van my verblyfplek. Die aarde wat my voed het reg op my krag en my arbeid. Dit kom my nie toe om die aarde waarop ek leef te verag nie. Ek is trou en dank daaraan verskuldig. Ek kan nie my aardse lewe met gedagtes aan die hemel wegdroom om daardeur my roeping, soos deur God bepaal, in hierdie vreemdelingskap te probeer ontwyk nie. Daar is 'n baie mense met goddelose heimwee na die ander wêreld wat nie verband hou met die terugkeer huistoe nie....

God het my swak en gering gemaak. En terwyl ek op aarde niks anders is nie as 'n gas sonder reg, sonder houvas en sonder sekerheid, het Hy vir my daarom 'n vaste onderpand vir my tyd hier gegee: sy Woord. En hierdie enigste sekerheid sal Hy my nie ontneem nie. By hierdie Woord sal Hy hou en daarin sal Hy my sy krag laat ervaar. Met hierdie Woord wat van huis-uit by my is, vind ek in die vreemde my weg, in onreg my reg, in onsekerheid my houvas, in die arbeid my krag, in lyding die geduld.

Dietrich Bonhoeffer (vry vertaal)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css