Die Weg

 

Aan wie behoort ek regtig?

“HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie - of U, HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!  Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,  dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” - Psalm 139:1-16 (53-vertaling).

Die Here het elkeen van ons gemaak en 'n plek op die aarde gegee met 'n sekere doel, en dit is om Hom te eer en diensbaar te wees. Daarvoor het Hy ons elkeen afsonderlik met spesifieke gawes toebedeel. Maar die mens wou van alle tye af homself verhef, dit is, hy wil sy eie eer eerste stel. Paulus sê daarvan: “Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” (Rom 12:3). Want dit is juis die beter-wil-wees as ander wat aanleiding gee tot die innerlike spanning in die mens. Ons kan bogenoemde sien as twee kragte wat binne 'n mens teen mekaar inwerk, en waar dit gebeur is daar stres. Hoe baie sien 'n mens dit nie? Van jonk tot oud is daar mense wat veg om menslike erkenning in die lewe. Selfs by ou, afgetredenes wat 'n leeftyd agter hulle het!

Wie kan vir my sê wie ek regtig is? Hoe sien ander my? Waarom is ander se mening vir my belangriker as wat God van my verwag?

Natuurlik kan ek probeer om myself hoog op te stel. Natuurlik kan ek 'n wonderlike beeld van myself skep deur aan myself te werk om 'n front aan die wêreld voor te hou - tog weet ek in my binneste dat dit op sy beste maar net 'n karikatuur van my werklike self is. Wie ek is, wie ek word, wat ek sal wees kan ek egter nie vooruit bepaal nie. Dit is 'n geheimenis wat stap vir stap sal ontvou wanneer ek my lewe aan die Here toevertrou en my deur Hom laat lei. (Andreas Felger)

Dan kan ek weer vir Dietrich Bonhoeffer aanhaal soos hy uit die gevangenis in Tegel geskryf het:

Wie is ek? Hulle sê dikwels vir my,
ek tree uit my sel te voorskyn
rustig, opgewek en sterk,
soos 'n landheer uit sy kasteel.

Wie is ek? Hulle sê dikwels vir my,
ek praat met my bewakers
openlik, vriendelik en reguit,
asof ek oor hulle beskik.

Wie is ek? Hulle sê vir my ook,
ek ontwyk die dag van afrekening
kalm, glimlaggend en trots,
soos een wat altyd oorwin.

Is ek werklik dít wat ander van my sê?
Of is ek net dit wat ek self van my weet:
onrustig, verlangend, siek, soos 'n voël in 'n kou,
smagtend na lewensasem, asof iemand my keel toedruk,
hunkerend na kleure, na blomme, na voëlgesang,
dorstend na goeie woorde, na menslike nabyheid,
sidderend van woede oor die willekeurigheid en kleinste belediging,
rondgedryf deur die wag op groot dinge,
magteloos bekommerd oor vriende in die eindelose verte,
te moeg en te leeg om te bid, te dink, te werk,
mat en bereid om afskeid van alles te neem?

Wie is ek? Dié of daardie?
Is ek vandag dié en môre 'n ander?
Is ek albei tegelyk? Voor mense 'n huigelaar
en vir myself 'n veragtelike, klaerige swakkeling?
Of net dit wat in my nog is, die verslane leër
wat in wanorde die wyk neem voor die reeds gewonne oorwinning?

Wie is ek?
eensame vrae dryf met my die spot.
Wie ek ook is, U ken my, ek behoort aan U, o God!

-dw-

Met aanhaling uit Widerstand und Ergebung, deur Dietrich Bonhoeffer.

Dietrich Bonhoeffer, was 'n Duitse teoloog wat deur die Nazi's gedurende die Tweede Wêreldoorlog vermoor is.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css