Die Weg

 

Hy moet meer word en ek minder

“Hy moet meer word en ek minder.” - Johannes 3:30

Karl Marx het dit sy roeping geag om mense te bevry van die “illusie” dat God die middelpunt van hulle lewe sou wees, die son waarom al die mense soos planete draai. Marx het dit as die “selfvervreemding” van die mens bestempel as hy sy middelpunt buite homsélf sou soek. Die stigter van die Kommunisme het verkondig: Staak dit om rondom 'n sogenaamde “god” as die sentrum van jou lewe te wentel en laat jou hele lewe om jouself, die wáre son draai.

Nou het ons nie net die val van die Kommunisme gesien nie, maar ook die verskriklike vergissing van Marx met bogenoemde bewerings. Wanneer die mens van God vervreemd raak en in homself die middelpunt van die lewe soek, raak alles skeef. Maar o wee, hoe dikwels is mense, sonder om Kommuniste te wil wees, volgelinge van hierdie dwase filosofie van Karl Marx.

Die teendeel van dit alles sien ons hier by Johannes die Doper. Die mense kom om hom aan te spoor en uit te lok om aan hulle te erken dat hy jaloers en beledig en ontnugter voel: dié Een vir wie u so geloof het, die einste Een rokkel nou u volgelinge af, en almal loop agter Hom aan!

'n Mens moet Johannes 3:27 dikwels lees, want ons beland almal self in dié oomblikke. Johannes laat uit sy antwoord blyk dat wat hulle as konkurrensie sien, vir hom slegs rede tot blydskap is. Hy is nie geroep om met Jesus mee te ding nie. Want hy is nie die bruidegom nie, wel die strooijonker. Sal hy op die huweliksdag die plek van die bruidegom probeer steel? Ondenkbaar!

Leer jou kinders van kleins af om te kan verloor, te kan erken, om hulle jaloesie te oorwin.

Uit: In sy Teenwoordigheid, deur Murray Janson  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css