Die Weg

 

Om weer gebore te word

'Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”' - Johannes 3:3.

Nikodemus weet nie wat om te sê nie en begin toe maar vir Jesus vlei. Dis daar dat die Genade weer met die waarheid vorendag kom: 'n mens moet opnuut gebore word om die koninkryk te kan binnegaan. Jou ou geboorte is aards, niks werd nie. Jesus is self só van bo af, uit die Heilige Gees gebore (vgl Joh 3:6; 1 Joh 3:9; Matt 1:20) en nie uit 'n mens nie. En jou waarlik, nou maak God se liefde dit vir álle mense moontlik.

Wat is die weergeboorte? Belangrik: Johannes gebruik nooit die selfstandige naamwoord nie. Hy praat nie van weergeboorte nie, maar slegs van: “uit die Gees gebore wees” (vgl Joh 3:6), “oorgegaan uit die dood in die lewe” (vgl Joh 5:24). So gesien is die uitdrukking “weergebore word” presies dieselfde as wat Paulus weer tipeer as 'n nuwe skepsel word (vgl 2 Kor 5:17), in Christus geskep wees (vgl Ef 2:10), die ou natuur aflê en met die nuwe beklee wees (vgl Ef 4:22, 24). Dit gaan dus hier oor 'n begrip wat dwarsdeur die Nuwe Testament voorkom.

Johannes beklemtoon dat mense vleeslik en aards is en die koninkryk nie sal sien nie, tensy ons as 't ware van voor af oor gebore word, dit is dat die Here álles van ons van vooraf moet oordoen. So stel Paulus dit ook in 1 Korintiërs 15 vers 50: “Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.” Hoe heerlik dus: ons is nie maar gemaak en so laat staan nie. Ons kan verander!

Ja, ons móét ook verander, al besef 'n bekende leraar dit hier nie (vgl Joh 3:10). Dit is dus geen opsionele saak nie maar 'n kwessie van lewe en dood. En hoewel God dit doen (vgl Joh 3:8), het ons verantwoordelikheid daarin (vgl Joh 3:3).

Uit: In sy Teenwoordigheid, deur Murray Janson  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css