Die Weg

 

Van tyd tot ewigheid

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” - Romeine 8:18.

Tyd is 'n meetbare fisiese grootheid, wat tesame met ruimte 'n samehangende geheel vorm waarbinne ons groei, leef en werk, en waarbinne alles in 'n spesifieke volgorde gebeur (oorsaak en gevolg). Ons neem dit waar as verlede, hede en toekoms. Die konsep van ewigheid kan nie deur hierdie model van tyd en ruimte omskryf word nie.

Onder ewigheid, of die ewige, verstaan ons iets wat geen begin of einde het nie en wat onafhanklik van die grootheid “tyd” bestaan. En dít is God en die ewigheid. In Psalm 90:1-4 staan: “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders! Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.“ Alle persoonlike leed van ons tydelike (tyd-lik) bestaan op aarde sal onbeduidend wees wanneer ons in die ewigheid sien wat God vir ons voorberei het.

Dit klink soos 'n paradoks dat 'n Christen enersyds vóór die grondlegging van die wêreld uitverkies is om onberispelik en heilig voor God te wees (Ef 1:4) en andersyds om in die tyd “gevange” te wees om op ons liggaamlike einde te wag.

Ons aardse weg op pad na die dood begin reeds by ons geboorte! Maar dit is volgens die wil van God! (Joh 17:15). Ons is hier om deur ons ervarings en lyding te leer en te groei, sodat ons as Christene binne tyd en ruimte geheilig kan word. So het Jesus Christus dit ook self beleef:  “Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.” (Heb 5:8). “En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.” (Heb 5:9). Ook al kan ons dit nie verstaan nie, moet ons dit so in die geloof aanneem en God daarin vertrou.

Ons is dus in goeie geselskap en daarom sal ons in gehoorsaamheid aan Jesus Christus vashou wat vir ons die bewerker van die ewige saligheid geword het. Deur die verlossing wat Christus bewerkstellig het en deur die wedergeboorte word ons geheilig – dit is, opgebou en afgesonder vir God. Christus verwag van ons as “hemelse burgers” ook om die pad na volmaaktheid te loop waarop Hy ons vooruitgegaan het. Hy het net soos ons aanvegtinge beleef en moes aan ons gelyk word (Heb 2:17-18) om ons in ons swakhede by te staan (Heb 4:15).

Het ons nie dalk tyd nodig om ons swakhede en die noodwendige verlossing wat nodig is te kan begryp en te verstaan nie? Moenie dit verkeerd verstaan nie, die leed en die stryd wat ons baie maal te beurt val is nie onbelangrik of oorbodig nie, maar dit is begrens en dit het 'n einde. Wat ook al met ons gebeur sal geen onaangename herinneringe of littekens in ons siele nalaat nie. Dit is net so onderworpe aan die tyd soos ons sterflike liggame. Ons ervarings (in geloof) en ons aardse lewe het 'n sin en doel vir die ewigheid.

Hoe die hemel daar uitsien, sonder die beperkings van tyd en ruimte, is bo ons verbeeldingskrag. Tog sal ons daar 'n taak hê, en wat ons hier beleef sal daar wel 'n rol speel. Die beste van alles is dat ons God sal sien soos Hy werklik is. “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees.” (1 Joh 3:2). Daarvoor word ons ook hier op aarde na siel en gees voorberei. Halleluja!

Uit: Biblische Kurzbotschaften, deur Jörg Bauer (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css