Die Weg

 

Pylreguit vorentoe

(Lees saam met die vorige)

Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” - Filippense 3:14 (53-vertaling).

Paulus het hulle gesien: die lenige lywe wat onstuitbaar op die wit lint afpyl. Paulus het dit veral gesien aan die einde van die wedloop waar dit om die laaste sentimeters gaan; as die atlete vlak langs mekaar hardloop: die hele liggaam sierlik gestrek met 'n hand wat vorentoe uitreik na die begeerde doel.

Dit is ook die beeld van Paulus se lewe. Omdat daar 'n doel in Paulus se lewe is, is daar ook rigting in sy lewe. Daardie kragtig lokkende en roepende doel trek alle kronkels en draaie uit sy lewenslyn. Paulus beweeg voort met 'n ontsaglike vaart en momentum. Maar hy hardloop nie heen en weer, eers agter dit en dan agter 'n ander ding aan nie. Paulus is die man van “maar één ding doen”, en daardie een ding doen hy met volkome toewyding. Paulus se lewe is een reguit lyn. Hy hink nie op twee gedagtes nie. Hy het maar net één doel voor oë en daar pyl hy op af. “Ek het alles Hom gegewe, nou word ek voortgedrewe na Christus, na my lewe verborge by my God.”**

Só moet ook óns lewe word. Om te “vergeet wat agter ons lê” is om ons “uit te strek na wat voor is”. En in daardie geval moet ons onsself positief op Jesus Christus rig, as die groot prys van God. Dit verg ons toegewyde aandag en sorg, anders glo ek, sal ons deur die lewe verswelg word. Sonder geestelike skoling wat ons stamina gee deur “oefeninge” (Bybellees, omgang met God se volk, vas, bid en oordenking) kom daar ook niks tereg van daardie “uitstrek” nie. Maar die “uitstrekking” moet ook deel vorm van ons gewone daaglikse lewe. In al ons daaglikse bedrywighede moet daardie “uitstrek na wat voor is” duidelik na vore kom. In ons werk en wandel, in ons vreugde en verdriet, in ons lewe! Dan word weldra ook ons sterwe: 'n uitstrekking na dit wat voor ons lê.

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen

** Ds Gabe van Duinen het hier woorde aangehaal van Abraham des Amorie van der Hoeven Jr (1821-1848) voor sy sterwe.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css