Die Weg

 

Wat dryf ons?

Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” - Filippense 3:14 (53-vertaling).

Paulus beskou die Grieks-Romeinse sportlewe van sy tyd as 'n goeie model vir die lewenshouding en lewenstempo van die Christen. Soos die atlete in hulle vaste bane hardloop – naak en vry van enigiets wat hulle kon hinder; die hele liggaam wat in volle vaart vorentoe skiet - só moet die Christene ook in God se wedloop hardloop. Hulle moet “jaag”.

Om te “jaag”, is 'n sterk woord. Maar Paulus mag dit sê, en dit ook aan ander as 'n eis en roeping voorhou. Dit was immers hoe Paulus se eie lewe was. Hoe was sy lewe nie “gejaagd” nie! Dit is indrukwekkend hoe hierdie man hom vir sy diens aan sy Meester beywer het. As jy vir Paulus wil sien jaag, moet jy maar rustig gaan sit en 2 Korintiërs 6 en 11 lees. Niks kon in sy pad staan nie! Deur seë en woestyne, verby rowers en moordenaars, deur gevangenisse en slae. Maar Paulus gee nie op nie. Hy sou kon sê: “Terar dum prosim” - “Laat ek verteer word, solank ek maar net nuttig is”. Die wêreld dink hy is gek. Maar hy ag die dinge waarna die wêreld jaag as “drek” (Fil 3:8; 53-vertaling). Hy doen maar een ding: “hy jaag na sy doel”! Hy is 'n atleet, en teen watter tempo!

Sal Paulus se “gejaag” ons ook 'n bietjie “opjaag”? Ons kan, so meen ek, nie meer die pas volhou nie. Van so iets soos “volkome die pad van God se gebooie loop”, het ons nie veel aan nie. Ons sukkel maar voort. Dit is nie eens 'n skuifeldraffie nie. Dit lyk meer soos 'n hond wat met 'n opgestroopte nekvel agter sy baas aangetrek word, óf .... soos mense wat voor al die winkelvensters gaan staan en kyk wat daar vertoon word. Ons kyk ook na allerlei uitstalvensters. Ja, die uitstalvensters binne die arena, en só sal ons die prys nie wen nie. Nie alleen die rigting nie, maar die tempo moet ook reg wees.

Dit is betekenisvol vir die persoon op die atletiekbaan. Die geringste aarseling, die verslapping van die aandag of omdraai om agtertoe te kyk, kan hom die prys kos.

Paulus kyk ook nie om nie. Hy “vergeet” wat agter hom is. Alleen daardeur is hy in staat om met soveel krag, energie en innerlike blydskap homself geheel en al aan sy ontsaglike taak te wy.

Daardie “vergeet” is nie so maklik nie. Daar lê so ontsaglik baie agter ons, dat dit vir ons maar moeilik is om te vergeet. Ons probeer dit wel en “skuif” dit van ons af, maar op onbewaakte oomblikke staan dit weer springlewendig voor ons. Dit rem ons, dit beswaar ons, dit put ons energie, dit bederf al ons spontaneïteit. Dan kan mense sê: “Daar is iets wat hierdie mens hinder.” Ja, ons ken dit almal. Verborge verdriet en skuld wat nie bely is nie. Dinge wat ons nooit moes gedoen het nie. Maar ... dit het nou eenmaal gebeur en nou sleep ons dit maar agter ons aan. As Paulus kon vergeet wat agter hom was, beteken dit sekerlik nie dat Paulus nie veel gehad het om te vergeet nie. Inteendeel! Paulus se kettings was baie swaar. Agter Paulus het sy haat teen die kruis van Christus en die moord op die dissipels van Christus gelê. En Satan kon dit telkens soos swaar hindernisse in sy pad gelê het: “onthou jy nog Paulus.....”?

Dit is wonderlik dat die kruis van Christus 'n mens ook laat vergeet. Nie net versoen en vergewe nie, maar dit só volkome uit die weg ruim - dat Paulus kan “vergeet”, dat hy daar heeltemal vry van word, sodat hy sy werk met vreugde kan doen. Inderdaad, deur niks gehinder nie.

Wat Christus weggegooi het, moet jy nie weer probeer opraap nie!

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css