Die Weg

 

Met God se krag op weg

(Lees saam met die vorige)

Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.” - 1 Konings 19:8.

Veertig dae en veertig nagte is 'n baie lang tyd as swaarkry en verdriet jou deel is. Elke uur van groot verdriet kruip traag verby met die sekonde-gewyse tik van die klok. Soms wanneer die dae hard en moeilik is vanweë die swoeg en sweet, bring die nagte ten minste rus. Dan val ons neer en slaap soos 'n klip. Maar ... dit kan ook anders wees. Ja, dikwels is dit anders. 'n Mens kan nog deur die dag kom, want dan het ons ten minste ons werk en die mense om ons heen, en 'n duisend en een dinge waarmee ons gedagtes ons besig kan hou. Maar ons sien op teen die nag: die eindelose, eensame, donker nagte as alles op ons afkom en die daaglikse gebeure allerlei vorme van groteske verskrikking aanneem. Ons staan op om iets te drink. Maar ag ... dit help alles niks! So het almal van ons ons dae en nagte! Veertig dae en veertig nagte! Ieder sy deel. Hoe oorleef ons dit?

Met God se noodrantsoen oorleef ons dit. Elia het “deur die krag van die voedsel” sy veertig dae en veertig nagte deurgesien. Dit was seker 'n moeilike reis, maar dit was ook 'n wonderlike reis. Elia was self daarvoor verantwoordelik dat hy in die woestyn beland het. Maar, dít is so wonderlik! God neem ons selfgekose woestyne in sy reisplan op en hervorm dit tot 'n deel van sy weg. So loop Elia veertig dae en veertig nagte lank deur die woestyn met God se krag op God se weg. Ja, dan word selfs die woestynreis 'n vreugdevolle reis. Met God kan 'n mens alles hê, en as dit moet, ook alles verloor, en nog steeds in staat wees om voort te gaan. En hoe het Elia nie geloop nie - sy volle veertig dae en veertig nagte! Woestynloper deur die genade van God.

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css