Die Weg

 

Vergiffenis en straf

“Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor. In 'n wolkkolom het God met hulle gepraat, en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam, die opdragte wat Hy hulle gegee het. Here ons God, U het hulle gebede verhoor. U was vir hulle 'n vergewende God, maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.” - Psalm 99:4-8.

Die mens hoor graag hoe God vergewe as iemand hom bekeer en na Hom roep om hulp. Maar dat Hy ook die sonde nie ongestraf laat bly nie, wil die mens liewer nie hoor nie. Tog is dit hoe God Homself in sy Woord openbaar.

Hoeveel keer het mense nie deur hul eie sondes in 'n toestand van groot benoudheid gekom nie? As hulle dan die Naam van die Here aangeroep het, het Hy geluister en hulle uit hul benoudheid gered. Hy het geantwoord toe Abraham by Hom gepleit het ter wille van sy broerskind Lot. Hy het geluister toe die murmurerende Israeliete na Hom geroep het om hulp en het Hy vir hulle water en manna gegee. Hy het geluister en vir Dawid vergewe toe hy na Hom geroep het uit die benoudheid waarin sy verskriklike sonde hom gedompel het. Wanneer Israel, vol berou en met skuldbelydenis, in hul benoudheid tot God geroep het, het Hy geluister en hulle verlos. Dit het hulle geleer om te sing: “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.” (Ps 103:8-13;53-vertaling).

Tog is Hy ook 'n God wat die sondige dade nie ongestraf laat verbygaan nie. Dit is nie 'n straf in toornagtige wraak nie, maar 'n straf wat getemper is met barmhartigheid. So het Hy Homself aan ons geopenbaar in die Paradys, in die sondvloed en in die vreeslike oordeel oor Sodom en Gomorra. Die Israeliete moes veertig jaar in die woestyn deurbring en eeue later in ballingskap gaan. Dawid het vergiffenis ontvang en tog het die swaard nooit weer van sy huis gewyk nie (2 Sam 12:10). Hy moes vlug vir sy seun Absalom en het bitterlik gehuil oor die vernederende dood van sy seun. Die moordenaar moes aan die kruis sterwe, al was hy verseker van sy vergifnis (Luk 23:43). Die saad van die sonde in ons hart, in en rondom ons huis, groei en dra sy wrang vrugte. Ons dra die pyn en die hartseer van die sonde met ons. Soos ons ons kinders tug om nie op die pad van verderf te beland nie, so is dit ook met God. Hy straf die sondige dade van sy uitverkorenes, sodat hulle volmaak kan word soos Hy ook volmaak is (Matt 5:48).

'Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?”' (Heb 12:5-9).

By U, HERE, is daar vergiffenis,
ook al het u trou, nie hul straf weerhou.
Loof, verhef die HEER; werp jul voor Hom neer!
Bring Hom roem en ere - heilig is die HERE!

(Ps 99:5; beryming).

-dw-

(Met erkenning aan ds PJ Viljoen in “Aanbid God”)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css