Die Weg

 

Wins uit Koronavirus?

Ek dink vir die meeste van ons word die soort lewe wat ons in die skadu van die virus moet lei al swaarder.

Daar is twee aspekte hiervan wat ons nie kan verander nie: die situasie en die feit dat ons swaar gevoelens daaroor het. Ja, ook laasgenoemde. Gevoelens is werklikhede: reaksies van jou lyf en kop op wat met jou gebeur. Jy kan nie kies hoe jy voel nie.

Maar daar is ook 'n derde aspek waaroor jy kan kies: Jy kan kies watter houding jy inneem teenoor die moeilike situasie en gevoelens. Jy kan byvoorbeeld daarteen veg of wanhopig gaan lê daaronder. Of jy kan kies om 'n houding van hoop in te neem teenoor jou situasie en gevoelens. Hoor die Woord van die Here vir ons: Die tweede paragraaf van Romeine 8 praat oor die feit dat hierdie skepping vol swaarkry is, dat ons almal sug, maar benadruk dan: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet” (Rom 8:28).

God het so 'n groot en mooi doel met elkeen van ons se lewe dat Hy ook swaarkry gebruik om jou daarheen te beweeg. Hy staan reg om te gee dat elkeen van ons wins maak en leer uit die huidige situasie. Hy gebruik die pyn om in ons en deur ons te werk. Daaraan kan ons meegee en saamwerk met hoop.

Waarmee is die Heilige Gees in jou besig?

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css