Die Weg

 

Die meerderheid is nie altyd reg nie

'Die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die leiers van die volksvergadering 'n eed teenoor die Gibeoniete afgelê het voor die Here die God van Israel, maar die hele volk het teen die leiers gemor. Die leiers het vir die volk gesê: “Ons het 'n eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie. Ons moet ons woord hou en hulle lewens spaar sodat die eed wat ons teenoor hulle afgelê het, nie die straf van God op ons bring nie.”' - Josua 9:18-20.

Dis 'n fout wat deur die demokrasie in ons samelewing ingedra is. Ons stem, en aanvaar die uitslag van die meerderheid. Daarmee saam aanvaar ons sonder meer dat die meerderheid altyd reg is. Natuurlik het die demokrasie sy goeie bestaansreg, veral op politieke gebied waar dit 'n mens vrywaar van die lewenslange tirannie van 'n diktator. Maar dis veral op die terrein van die godsdiens en die mens se optrede, die een teenoor die ander, dat ons moet oppas om nie sonder meer te aanvaar dat die meerderheid altyd reg is en volgens die wil van die Here optree nie.

In wat ons vandag gelees het, sien ons die betekenis van die koersvaste optrede van standvastige leiers wat bereid is om vir wat reg is teen die meerderheid kant te kies. 'n Verdrag wat met 'n eed bevestig is, word nie sommerso ongedaan gemaak omdat 'n mens agterna besef jy het jou aan jou neus laat lei nie (v 16).

Veral in die stormagtige tye waarin ons leef, moet 'n mens eerder jou lewe rig volgens die wil van die Here as volgens die wil van die massas.

Gebed: Gee my die insig en die krag, Here, om na u wil te vra en dit te doen. Amen.

Uit: Uit die Beek 1988.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css