Die Weg

 

Bewaar jou kosbare lewe

'Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe?”' - Markus 8:34-37.

Dit mag dalk vir sommige na dwaasheid klink om te wil sê dat jy jou lewe verloor as jy met alle mag daaraan vashou. Die wêreld verkondig tog aan ons dat ons alles uit die lewe moet neem wat ons kan. Ons moet vooruit kom, ons moet status verkry, ons moet naam maak in die lewe, ons moet gesien kan word, ons moet lekker kan lewe! En hoe dit daarop aankom maak nie juis saak nie. Kortom: ons het maar net een lewe om te lewe en ons moet alle middele tot ons beskikking daartoe gebruik.

Maar dit is 'n siening wat baie kortstondig is. Daar lê 'n diepe waarheid in die woorde van die Here Jesus. As ons net die lewe op hierdie aarde raaksien, dan kom ons iets kort. En dan wil ons alles teen watter prys uit die lewe haal. Dan kan ons wel sê: “laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Kor 15:32; Jes 22:13).  Dan wil ons krampagtig aan alles vashou, soos in die gelykenis van die ryk man: “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”  (Luk 12:19-21). As ons leef asof die liggaamlike dood die einde van die lewe is, dan verloor ons iets wat met geen geld gekoop kan word nie, dan verloor ons die ewigheid!

Ons siening oor die lewe beïnvloed ons lewens vandag. Die lewe bestaan uit twee dele: 'n kortstondige aardse een hier en 'n ewige na die aardse dood. En wie dit vergeet, verloor nie net die perspektief op die menslike lewe nie, maar ook Christus as hul Verlosser en Saligmaker. Hulle verloor die lewe in sy volheid.

Maar ons, ons kyk verby die aardse lewe, wat maar kortstondig is, na die ewige. En dit verander alles. Dan kan ons ons aardse lewe verloor, maar die LEWE behou.

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css