Die Weg

 

Hoe weet ek?

'Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan kindertjies bekend gemaak het.' - Mattheus 11 :25 (direkte vertaling).

Daar is nie so iets soos 'n stapsgewyse groei in ons geestelike verhouding met God nie – ons het 'n verhouding met Hom of ons het glad nie. God reinig ons nie elke dag al hoe meer van ons sonde nie -  Jesus Christus het net een keer vir ons sondes gesterf:  “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” (1 Joh 1 :7). Die oomblik wat ons hierdie feit ons eie maak en in gehoorsaamheid aan die eise daarvan lewe, dan tree ons in 'n verhouding met Hom. Maar, as ons ons rug op Hom keer, dan is die duisternis en dood ons voorland.

Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh 8:32; 53-vertaling). Hierdie waarheid bly vir ons verborge totdat ons onsself aan Hom onderwerp. 'n Mens kan dit nie met filosofiese denke of redenasies probeer ontsluit nie. Maar wanneer jy gehoorsaam is aan Hom, breek die lig van die waarheid onmiddellik tot jou deur: “In u lig sien ons die lig.” (Ps 36:9).

Maak jou hart oop vir die waarheid van God sodat dit in jou kan inwerk. Jy hoef nie daarvoor te gaan soek nie, want al wat dit vra is om wedergebore te wees. As jy in volle gehoorsaamheid aan God leef, sal Hy jou in sy waarheid onderrig. Jy kan boeke en boeke lees oor die werk van die Heilige Gees, maar dit sal jou niks baat as jy nie jou hart vir Hom oopstel nie. Dit is eers dán wat die waarheid soos daglig in jou deurbreek. Moenie sê: “Ek hoop ek sal hierdie dinge eendag verstaan nie!“ Jy kan dit nóú verstaan. En dit is nie deur studie dat jy dit sal verstaan nie, maar deur gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan Hom maak die hemel vir jou oop, en die diepste waarheid van God breek onmiddellik tot jou deur. God sal egter nooit die groot waarheid omtrent Homself aan jou openbaar, tensy jy gehoorsaam is aan die waarheid wat reeds aan jou bekend is nie. Pasop dat jy nie een van die “slim en geleerde mense” word nie. “As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet ... .” (Joh 7: 17).

Uit: My Utmost for His Highest,  deur Oswald Chambers: (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css