Die Weg

 

Die oorsaak van wanorde

“In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” - Rigters 17:6 (53-vertaling).

Wanorde het in die land van Israel geheers; daar was geen reg en geregtigheid nie. 'n Mens kan jouself afvra wat het van die priesters en Leviete geword wat die mense op die regte weg moes hou. Hulle het immers in diens van God gestaan om die verbondsvolk op die regte weg te hou! Daar was niemand om die reg uit te oefen nie en die volk het God en sy wet vergeet. “Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.” Ons sien in hoofstuk 17 en 18 van Rigters hoe die wet van God deur die mense verdraai is om hulle eie luste te bevredig. En wat ons verder lees in hoofstukke 19 en 20 is om die minste te sê uiters walglik. Dit het sleg gegaan omdat daar niemand was wat die volk op die weg van God kon hou nie. Die mense het hulle rug op God gedraai. Verbaas ons ons oor wat daar gebeur het? Is dít wat ons vandag in die wêreld sien gebeur, nie net so afstootlik nie?

As ons die geskiedenis van nasies te bestudeer, sien ons altyd dieselfde neigings. Daar is 'n tyd van groei en opbou, dan weer vernietiging en verval. Hiervan is Israel 'n goeie voorbeeld. Ons sien 'n duidelike siklus van opbou en verval. Wanneer God die sentrale plek in die volksbestaan ingeneem het, was daar vrede en groei. Maar sodra die volk agter die afgode aangeloop het, het die verval ook ingetree. Toe Samuel later as rigter begin optree het, het dinge in die land verbeter. Hy het gemaak dat die volk teruggekeer het na God. En al was daar nie 'n koning nie, was daar vrede in die land, want God was Koning (1 Samuel 7). Ook later, in die tyd van die konings, sien ons die tye van opbloei onder die Godvresende konings, en die verval onder die konings wat die afgode gedien het. So het dit voortgegaan tot op dáárdie tyd dat die volk só weg van God beweeg het, dat Hy hulle in die hande van vreemde nasies oorgegee het en hulle in ballingskap weggevoer is. 

Dit was nie net met Israel die geval nie, maar ook met baie volkere onder die Nuwe Testamentiese verbond. Iemand wat die geskiedenis ken sal weet van die invloed van die Hervorming – die terugkeer na die suiwere leer van die Woord van God (die Calvinisme) – op die staatkundige, sosiaal-ekonomiese en wetenskaplike ontwikkeling in verskillende wêrelddele. Natuurlik was daar in dié tye baie onderlinge stryd tussen mense en volkere, maar nogtans het God se Woord die sentrale plek in die mense se lewens gehad – kortom: daar was lewe en groei. Die mense het die Woord uitgedra en waar hulle gegaan het, het hulle die lande opgebou. Maar toe kom die moderne filosowe wat die humanisme (die mens) bo God se Woord stel, en Karl Marx wat Godsdiens as “Opium vir die volk” beskryf het. Die mens het die Woord van God al hoe meer verdraai om by die menslike sienings in te pas. En daarmee saam het ook die verval stelselmatig ingetree. Waar eens gebou is, tree verval in. “Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie, mag daar geen klaagkreet op ons pleine gehoor word nie. Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die HERE is!” (Ps 144:14-15).

Geen enkele mens kan sê wat reg of verkeerd is nie. God alleen het daardie reg. Daarom het Hy aan ons sy wet gegee. “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr 14:12; 53-vertaling). “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spr 3:5-7; 53-vertaling).

Ons het 'n ewige Koning. Ons ken sy wet. Meer nog, die Heilige Gees is aan ons gegee sodat ons die wil van God sal verstaan. Volg sy leiding en wees aan Hom gehoorsaam. Dan sal daar orde heers.

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Wat 'n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas....... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen” (Rom 1:18-25).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css