Die Weg

 

Moenie dat jou gees geknak word nie

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” – Efesiërs 6:11-12.

Die Kerk van Jesus Christus was deur die eeue altyd nog 'n strydende kerk. Ons moet daarteen waak dat ons nie nóú maar net passiewe toeskouers word wat toelaat dat ander namens ons besluite neem nie. Dit is nie wat die Here van ons verwag nie. Hy roep ons op tot die stryd. En watter stryd is dit nie! Dit is 'n geweldige stryd wat baie inspanning verg, want dit is nie 'n stryd teen mense nie. Dit is 'n stryd teen die duistere magte van die duiwel wat in die weg van die evangelie van Jesus Christus staan. En daarvoor gebruik hy mense. Dit is nie dat ons nie kan stry nie; ons het immers baie strydkrag in ons. Want stry ons nie in elk geval elke dag om in hierdie wêreld te oorleef nie!

Ons stryd vandag is nie 'n fisiese stryd nie, maar 'n geestelike stryd. Dit is 'n stryd van die duiwel teen die menslike gees, om die mens sielkundig af te breek. Sal ons soos Job staande kan bly? Satan is besig met 'n fyn uitgewerkte strategiese oorlogvoering op dieselfde manier as waarop fisiese oorloë in die verlede gewen is. Dit is dieselfde tipe strategie wat die geallieerde magte met hulle inval in Normandië op D-dag, 6 Junie 1944, gebruik het. Omdat die Duitse magte baie sterk was, het die geallieerdes die Duitsers met 'n deeglik beplande skynaanval op Pas-de-Calais mislei om hulle aandag van die werklike inval af te lei. Die Duitse magte het in die val getrap wat die sukses van die inval in Normandië moontlik gemaak het. So moet ons vandag ook op ons hoede wees dat die viruskrisis nie ons aandag aflei van dít wat regtig saak maak nie. Ons moet ons geestelike weerbaarheid verskerp en die gemeenskap van gelowiges versterk, op watter wyse ook al! Die Kerk van Christus is immers 'n gemeenskap wat met die band van die geloof aanmekaar verbind is.

Die stryd waarin ons ons bevind en wat nog baie gaan verdiep, is nie 'n stryd teen wêreldheersers nie. Hulle is maar net die pionne op 'n skaakbord. Dit is 'n stryd van die Lig teen die duisternis. Dit is die stryd om die blye boodskap van die evangelie van ons Here Jesus Christus. Ons moet waaksaam en op ons hoede wees: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” (Matt 10:16).

Ons moet versigtig wees soos slange. Want waar ons ons ook al bevind, en wat ons ook al doen, dáár is die Satan nie ver van ons af nie. Hy sal probeer om ons teen te gaan en sy listigheid ken geen perke nie. Soms is sy aanslag baie subtiel en ander kere uiters brutaal. Ons sien dit in die listigheid waarmee angs en depressie in die hantering van die viruskrisis aangevuur word, maar ons sien dit ook in die brutaliteit van die moorde wat gepleeg word. Petrus waarsku ons nie verniet nie: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” ( 1 Pet 5:8). Dit is die stryd van die Kerk teen die wêreld. Dit was altyd daar, maar die intensiteit neem nou net meer toe op verskeie fronte. Die doel daarvan is om die mens se gees te probeer breek sodat hulle Jesus Christus verloën.

Die vermaning “om versigtig soos slange” te wees, staan egter nie alleen nie, die res die sin is net so belangrik: “en opreg soos duiwe”. Want waar die opregtheid verlore gaan, verloor die Woord sy krag en broei die sonde uit. Van ons kant moet hierdie stryd dus met die wapens van waarheid en geregtigheid gevoer word (Ef 6:14).

Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” (Ef 6:13-18).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css