Die Weg

 

Om te kan volhard

“In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.” - Mattheus 24:10-13.

Die Here Jesus het vir sy volgelinge geen paradys op hierdie aarde voorgehou nie. Sy woorde van 2000 jaar gelede is profeties woorde wat vandag ook al hoe meer sigbaar word. Hy het vertel van die swaar tye wat voorlê wanneer die mense God se Woord begin minag en van die geloof afvallig word. Die kaf sal beslis van die koring geskei word. Dit is vir niemand maklik wanneer die aanslae van die wêreld daarop gemik is om jou gees, en daarmee jou geloof, te vernietig nie. Dit verg ongelooflik baie geestelike krag om staande te kan bly. Daarom vermaan die Here Jesus ons om te volhard. “Red julle lewens deur te volhard.” Só sê Hy in Lukas 21:19 (direkte vertaling). 

Ons kan dit illustreer aan die hand van 'n alledaagse voorbeeld. Die meeste ongelukkige huwelike het goed begin. Die lewe was die ene maanskyn en rose. Die moeilikhede van die alledaagse saamwoon het nog nie gekom nie. Dit is eers wanneer die daaglikse probleme hulle geestelike tol begin eis en die huweliksmaats by mekaar begin fout soek, dat die liefdesvuur verdof en die ware toets begin. Het hulle genoeg liefde om vol te hou? Het hulle verdraagsaamheid, insig en vergewensgesindheid? Ware liefde ontwikkel eers deur die loop van jare wanneer moeilikhede saam oorkom word. Dáárdie liefde is die vrug van volharding in die huwelikslewe. 

Veral vandag word ons geestelike uithouvermoë swaar op die proef gestel. Ons sien hoe mense om ons moedeloos begin raak oor die onredelike politieke druk, die vernietiging van die omgewing en die viruspandemie wat mense inperk sodat hulle geen inkomste meer het nie. Ons sien hoe die mense afvallig raak van die geloof en die Naam van die Drie-enige God opsetlik laster. Sal ons staande kan bly en nie maar toelaat dat die stroom van die wêreld ons meesleur nie, ook ter wille van ons kinders?

Die Here Jesus het ons egter juis gewaarsku om ons voor te berei op alles wat vir die gelowige wag. Daarom kan ons vandag 'n besliste standpunt teenoor die wêreld inneem. Moet daarom nie tou opgooi en  kleinmoedig raak nie. Weet dat Christus met jou is en aan jou die krag voorsien as jy volhard, want Hy het nie net gesê: “Red julle lewens deur te volhard“ nie, maar ook: “kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20; 53-vertaling).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css