Die Weg

 

God is lig

Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” - 1 Johannes 1:5.

Dit gaan vir Johannes om die verkondiging van Christus as die geopenbaarde Woord van God - die Een wat die lewe is en ook die lewe gee. Jesus is die Seun van God, maar ook ware mens. Jesus is die lig vir die wêreld en Hy het aan ons kom bekendmaak dat God in sy wese Lig is. Hierdie lig is 'n universele simbool van die heerlikheid van God soos Hy Homself in heiligheid en sondeloosheid aan die wêreld openbaar. Die lig is dus die sinnebeeld van liefde, geregtigheid en goedheid teenoor die duisternis wat haat en sonde versinnebeeld. Hierdie lig het in die volheid van die tyd in die wêreld gekom om die duisternis te verbreek en tog het die mense die duisternis liewer gehad as die lig omdat hulle werke boos was (Joh 3:19).

Wie aan God behoort, lewe in die lig en in die liefde. Ons is uit die duisternis van verlorenheid geroep tot die lig van sy genade (1 Pet 2:9).

Gebed: Here God, U is waarlik Lig. Dankie dat u lig in my donker hart deurgebreek het. Help my om vandag te leef soos 'n mens van die lig. Amen.

Uit: Lig en Lewe, 1987.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css