Die Weg

 

Dit is vir my goed om naby God te wees

“Dit is vir my goed om naby God te wees” - Psalm 73:28.

God is self die antwoord op die groot raaisel dat goddeloosheid skynbaar lonend is en dat regverdigheid ellende bring.

Die digter glo vas aan die regverdige heerskappy van God op aarde. Oor hierdie heerskappy se Psalm 1: Met die regverdige sal dit goed gaan, maar die goddeloses sal vernietig word. Deur die harde lewenswerklikheid kom die digter van Psalm 73 in hierdie verband egter voor 'n groot raaisel te staan. Hy begin om te getuig van die goedheid van God vir die ware gelowiges. Tog het hy daaraan begin twyfel en byna koers verloor. Tot sy ontsteltenis het hy agtergekom dat hy op die goddeloses en hulle voorspoed jaloers is! Die goddeloses is gesond en voorspoedig, hulle is trots, gewelddadig en aanmatigend. Hulle laster teen God en geniet tog aanhang onder die volk. Hulle dink dat God nie van hulle optrede kennis dra nie. Ongehinderd word hulle ryk. Die digter daarenteen kry vir sy opregte lewe net teenslae en straf, elke dag.

Hy kom egter tot inkeer en besef dat hy met die soort taal die gelowiges sou verloën. Daarom probeer hy dieper oor die saak nadink. Maar hy vind eers 'n antwoord nadat hy dit van God self binne die tempel ontvang het. Dan word dit vir hom duidelik dat die goddeloses die kiem van skielike ondergang in hulleself dra. Hulle paaie is glad, in 'n oogwink stort hulle die afgrond in. Hulle indrukwekkende vertoning kom soos 'n droom tot 'n einde as God ingryp.

In sy gevoel van verontregting, so bely die digter, was hy dom en selfsugtig soos 'n redelose dier. Hy was tog mos nog altyd naby God, want God hou hom vas en lei hom deur sy Woord. Selfs as die digter se einde sou kom, sal God hom in ere by Hom opneem. God self is vir hom meer werd as alles in hemel en op aarde. Al is hy afgetakel na liggaam en gees, God is sy rots, hy behoort altyd aan God. Die wat ver van God af leef daarenteen, word vernietig. Maar vir die digter is dit goed om naby God te bly, Hom sy toevlug te maak en Hom te prys vir wat hy doen.

In Jesus Christus se sterwe sien ons ook die skynbare seëviering van die goddeloosheid, en vind ons ook die antwoord daarop. Nêrens het die goddeloosheid so gefloreer as rondom Golgotha nie. Vir al Jesus se regverdigheid het Hy net vervolging en verdrukking ontvang. Die aanmatiging teenoor Hom en teenoor God was groot (vgl Matt 27:40,42). Die goddeloses het bly leef, Jesus daarenteen het gesterf. Bowendien is Hy deur God verlaat!

Die antwoord op hierdie raaisel getuig van 'n wonder: Jesus het gesterf om vir ons sonde te betaal. Hy het ook met goddelike krag uit die dood opgestaan en alle bose magte oorwin. Daarom kan ons altyd naby God wees. Hy lei ons deur die raad van sy Woord. Ons het niks te vrees nie, al kom ons einde ook nader, want Hy sal ons in ere by Hom opneem. Bowendien sal almal liggaamlik voor Jesus verskyn wanneer Hy weer kom. Hy sal vir altyd 'n einde maak aan die skyn dat goddeloosheid lonend en regverdigheid nadelig is.

Hierdie skyn bly tog in die gebroke werklikheid voortbestaan. Dit bly 'n diep raaisel, so diep dat ek dikwels daarvan duisel. Die harde werklikheid lewer immers vir 'n mens se gevoel oortuigende bewyse dat die goddeloosheid lonend is. Hoe moet 'n mens anders die onopgeloste diefstalle, moorde en ander misdade verklaar? Wat van die florerende misdaadbendes? Wat van die omkopery in baie leidende kringe? Hoe lekker lewe die mense tog! Mense kom weg met afpersing, skakings en terrorisme. Hulle hou geen rekening met God, die Allerhoogste, nie. En wat kry ek daarenteen vir my regverdige optrede, vir my opregte lewe? Is dit nie net teenslae en straf nie?

So draai ek soms in my bepeinsing en beoordelinge al vaster en vaster. Daar kom eers 'n wending as die Gees van God die inisiatief in my lewe neem. Dan besef ek dat ek byna koers verloor het en dat ek die gelowiges sou verloën as ek so sou aanhou praat. Dit is tog dwaas om die goddeloses met afguns te bejeën: hulle loop op gladde plekke en stort in 'n oogwink die afgrond in. Ek besef dat ek in my gevoel van verbittering en verontrusting sonder insig is, dom soos 'n redelose dier. Daar is mos nog 'n ander groot raaisel: my hart is dood en verlore in sonde, skynbaar onherstelbaar, maar tog wek die Heilige Gees 'n nuwe lewe daarin op. Hy doen dit deur dieselfde krag waardeur Hy aan die regverdiges waarlik lewe gee binne in 'n gebroke en goddelose wêreld. Boweal het ek waarlik lewe en rykdom omdat die Gees in my woon. Ek is naby die Here. Hy het my nog altyd aan die band gevat. Niks in die hemel of op die aarde is vir my meer werd nie as om aan God te behoort en by Hom te wees.

Daarom wil ek die Here prys en wil ek nie met afguns teenoor die goddeloses vervul wees nie. Veel eerder wil ek teenoor hulle getuig van die grote goedheid van God; ek wil getuig van die wonderlike rykdom wat sy teenwoordigheid bied. Die goddeloses moet bewus raak van die skyn in hulle eie voorspoed en hulle moet in God die lewe soek.

Ek het die Here gekies as my toevlug. Hy is die antwoord op die groot lewensraaisels. Daar is niks wat vir my meer beteken as Hy nie. Aan Hom laat ek alles met vertroue oor. Ek sal bly vertel van alles wat Hy doen.

Uit: Loof die Here!, deur Prof JL Helberg
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css