Die Weg

 

Is die nuwe altyd beter?

Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei. Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was....” - 2 Timoteus 3:13-14.

Wat moet 'n Christen se gesindheid wees teenoor húlle wat ons teëstaan en selfs vervolg? Die natuurlikste reaksie is om kwaad en verbitterd te word. Dit is egter 'n vleeslike reaksie (vgl 1 Kor 3:1). Die teenstanders van die gelowiges moet egter bejammer word, want hulle mislei nie slegs ander nie, maar is self slagoffers van misleiding. Hulle het 'n behoefte aan die ware lig, maar staan dit teë.

Die jong gelowige, daarenteen, se behoud is om in standvastigheid te bly by die beproefde waarheid wat hy geleer het, en waarvan hy die kragtige uitwerking ook in die lewens van gelowige voorgangers gesien het. Timoteus se leermeesters was Paulus, sy ouma Loïs en sy moeder Eunice. Enige nuwe gedagte of afwykende lewenswyse, hoe indrukwekkend of opwindend dit ook al voorkom, moes opgeweeg word teenoor die Bybelse en beproefde pad waarlangs Timoteus gekom het. Hy het ten minste geweet dat die beproefde pad 'n veilige pad is waarop God self sy waarborg was en ook sou wees.

Dit mag soms voorkom asof die ware lewe in nuwerwetse idees opgesluit lê. Maar wat weet jy van die nuwe leermeesters af? Watter versekering het jy dat hulle nie dalk ook die slagoffers van misleiding is nie, terwyl diegene van wie jy jou geestelike leiding ontvang het en wat soms so verouderd voorkom, ten minste die draers van 'n Boodskap met 'n waarborg is.

Gebed: “Dankie Here vir diegene wat my geestelik begelei het tot vandag toe. Bewaar my van 'n onbeproefde weg waarop ek geestelik skade kan lei. Amen

Uit: Lig en Lewe 1986.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css