Die Weg

 

Wanneer die wedloop eindig

Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd” - Prediker 3:1 (53-vertaling).

Hierdie week begrawe ons twee neefs met wie ek 'n noue verbintenis gehad het. Hoewel dit baie hartseer is, moet 'n mens dit beskou as die verloop van die lewe. Elke persoon moet die een of ander tyd die aardse lewe verlaat. Sommiges vroeër, ander weer later. Maar die dag kom vir elkeen van ons.

* Daar was 'n tyd toe almal van ons leeftyd, die een na die ander, in die huwelik getree het.

* Toe was daar die tyd toe almal van ons leeftyd, die een na die ander, kinders gekry het.

* Toe kom die tyd wat almal van ons leeftyd se kinders, die een na die ander, in die huwelik getree het.

* Toe was daar die tyd dat almal van ons leeftyd se kinders, die een na die ander, kinders gekry het.

* Nou is daar die tyd waar almal van ons leeftyd, die een na die ander, die rivier na die ewigheid moet oorsteek.

In sy tweede brief aan Timoteus skryf Paulus die volgende: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.” (2 Tim 4:6-8). Hy weet dat die einde van sy lewe op hande is. Maar hy kan terugkyk op 'n volle en geseënde lewe saam met, en in die diens van Jesus Christus. Hy sien egter nie die dood as 'n einde van alles nie, want hy skryf ook: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil1:21).

Die tye hierbo is die stadiums waardeur die meeste van ons se lewens gaan. Elkeen van hulle 'n baken op ons weg deur die lewe. Gelukkig is jy as jy gedurende al hierdie tye van jou lewe die geloof behou het, dít aan jou kinders en kleinkinders oorgedra het, en die evangelie van vrede in Jesus Christus ook deel van hulle lewens gemaak het. Maar nie nét aan hulle nie, ook aan die baie ander mense wat jou lewenspad gekruis het. Om dan soos Paulus te kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

-dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css