Die Weg

 

Om heilig te lewe

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” - Efesiërs 4:23-24.

Hierdie teks kom as 'n opdrag van God tot elke gelowige. Paulus sê ook in 2 Korintiërs 7:1 die volgende: “Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.

Hoeveel gelowiges is daar wat hierdie opdrag tot heiligmaking en toewyding gehoorsaam? Begeer jy nie ook 'n geestelike lewe op 'n hoë vlak - 'n lewe van oorwinning oor sonde nie? Of is jy tevrede met 'n val-en-opstaan-lewe vol neerlae en mislukkings? Die probleem is as 'n mens rondom jou kyk, vind jy dat daar weinig verskil op te merk is tussen die deursnee Christen en die ongelowige. Dit word as normaal beskou dat die Christen saamskinder, met 'n bekommerde gesig rondloop, af en toe sy humeur verloor, liefdelose opmerkings maak en miskien nou en dan 'n paar kragwoorde gebruik. Maar hoe vergelyk hierdie beeld van die gemiddelde Christen met wat God se wil vir sy kinders is?

God se plan vir jou en my is dat ons 'n geestelike lewe op 'n veel hoër vlak sal lewe - 'n lewe volkome volgens sy wil. Jy mag wel vra: wie is daartoe in staat? Niemand uit homself nie. Maar as Jesus Christus ten volle van jou besit neem en jou hele lewe vul, doen Hy dit in jou lewe deur sy Gees.

Gebed: Here God, ek wil my in gehoorsaamheid volkome aan U toewy en probeer om heilig te lewe volgens u wil. Amen.

Uit: Lig en Lewe 1986.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css