Die Weg

 

Nie uit eie krag nie

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” - 2 Timoteus 1:7.

....wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het.” - 2 Timoteus 2:1.

Dit is wonderlik om selfversorgend te wees; om met selfvertroue die lewe tegemoet te gaan in die wete dat jy alle probleme sal kan oorbrug wat oor jou pad mag kom. Dit is egter 'n onbetwisbare feit dat iets onverwags in jou lewe sal gebeur wat al jou goeie voornemens en planne in die war kan stuur. Twyfel, moedeloosheid en selfs angstigheid mag jou voorland wees. Maar dit is dalk juis hierdie ondervinding wat jy nodig het om jou op die regte pad te stuur. Dit is tye soos dié wat God self in jou lewe ingryp.

Jy sal leer dat alle mense feilbaar is as hulle op hulle eie vermoëns vertrou. Maar as jy jou dan na jou Vader wend, sal Hy sy geestelike reserwes aan jou beskikbaar stel. Wanneer jy besef dat jy nie die onverwagse situasies self kan hanteer nie, kom jy tot kennis van die algenoegsaamheid van God. Dit is 'n nuwe ervaring wat jou lewe verander. As jy jou dan volkome op God verlaat, sal jy vind hoe God se doel met jou lewe sigbaar word vanuit die geestelike verwarring waarin jy verkeer. Jy sal die staat van selfvoldaanheid en selfgenoegsaamheid agter jou laat en jou verbly in die nuwe krag wat die Gees van God tot jou beskikking stel.

Die ware benadering tot die lewe, die regte aanpak van alles wat jou te doen staan, lê daarin dat jy dit nie uit eie krag moet probeer doen nie. As jou verhouding met die Here reg is, kan jy altyd op die bystand van die Gees van God vertrou.

Uit: Through the year with faith, deur Arnold J Walker (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css