Die Weg

 

Deur God uitgekies om vrugte te dra

Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou....” - Johannes 15:16.

Vir baie dissipels van Jesus Christus het hulle Christelike geloof begin toe hulle die heerskappy van die lewende Christus in hulle lewe erken het. Maar in werklikheid het jou Christelike ervaring begin toe die Heilige Gees toegang tot jou onvolkome lewe begin soek het. Op daardie spesifieke oomblik mag jy selfs vyandiggesind gevoel het teenoor die geestelike lewe; jy het miskien 'n rusteloosheid ondervind wat jy nie kon verstaan nie en niks kon aan jou die bevrediging gee waarna jy gehunker het nie.

Innerlike verlangens wat nie gestil kon word nie, het jou geïrriteer en swak geselskap gemaak; jy het 'n onophoudelike gevoel van onrus gehad wat jy nie kon verklaar nie. Moontlik het jou lewe 'n byekorf van dolle aktiwiteit geword soos jy alles probeer het om vrede en realiteit in jou lewe te vind.

Die openbaring van God se roepstem tot jou - die feit dat Hy jou gekies het om Hom te dien - gaan dikwels gepaard met innerlike konflik omdat wat God van jou vra, jy nie altyd gewillig is om vir Hom te gee nie. Hierdie konflik kan die begin wees van 'n wonderlike lewe van diens, maar dan moet jy jou aan God oorgee en jou lewe oopmaak vir die invloei van die Heilige Gees.

Jy is deur God gekies om Hom onvoorwaardelik te dien en tot sy eer te lewe. Dit mag dalk nie baie opwindend klink nie, maar diegene wat dit gekies het, vind dat hulle lewe nuwe sin en betekenis het, hoe meer God se Gees deur hulle werk.

Uit: 'n Rusplek langs die pad, deur Solly Ozrovech (Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy - www.cumuitgewers.co.za)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css