Die Weg

 

Nie alle goeie mense gaan hemel toe nie!

Lees: Mat 19:16-30; Mar 10:17-31; Luk 18:18-30.

Mense dink soms dat die hemel net vol “goeie mense” en die hel vol “slegte mense” is. Dan word gevra: Wat kan ek nog doen wat “goed” is sodat ek God kan beïndruk, óf wat kan ek doen wat tot my voordeel is om in die hemel te kom? En dan dink ek dat wat ek doen belangrik is vir God se besluite oor my.

God wil nie iets van jou hê nie, alles behoort aan Hom. God wil jóú hê, Hy wil jou hart hê, Hy wil gehoorsaamheid hê, Hy wil hê dat ons sy wil sal doen. Ons lees van hierdie jongman wat baie ryk was, en wat alles gedoen het wat hy moes, hy het die gebooie onderhou, maar Jesus sê vir hom: “Gaan verkoop alles wat jy het en volg My!” (Mar 10:21).

Dit was vir hom baie swaar. Hy het bedroef weggegaan. Tog het hy na Jesus toe gekom in nederigheid, hy het gehardloop, hy het gebuig voor Jesus, Hy het Hom in eerbied aangespreek en eerlike vrae gevra. Ons lees in Markus 10:21 dat Jesus hom liefgekry het. Maar hierdie versoek van Jesus was te veel vir hom. Hy het bedroef geraak. Hoe kan jy sommer maar alles wat jy het verkoop?

Jesus het hier verseker bedoel dat die jongman God nog nie volkome liefgehad het met sy hart en siel en verstand nie. Hy het nog te kort geskied. Sy besittings was vir hom nog baie belangrik. Daarom moet ons onthou dat ons goeie werke ons nie in die hemel bring nie. Ons rykdom bring ons nie in die hemel nie. Ons godsdienstige lewe bring ons nie in die hemel nie. Ons geloof in Jesus Christus, bring ons in die hemel.

Jesus Christus was dié volmaakte mens. Jesus Christus was volkome gehoorsaam aan sy hemelse Vader. Jesus Christus het niks op aarde gehad nie. Alhoewel alles aan Hom behoort het, het Hy nie geroem op aardse rykdom nie. Hy het op ’n donkie gery, maar Hy het altyd die wil van sy Vader gedoen. Hy het liefgehad tot aan die kruis. Hy het sy dienswerk op aarde volbring. Glo in Jesus Christus as jou enigste weg na die hemel. Dien God in liefde en in dankbaarheid. Vra altyd vir genade op genade.

Ds Gerrit Kruger
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css