Die Weg

 

Pinkster - Verband tussen Handelinge 2 en Eksodus 20

“Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.” - Handelinge 2:3.

Soos ons al verskeie kere aangetoon het, is daar 'n sterk ooreenkoms tussen die geskiedenis van Israel in die Ou Testament en die geestelike Kerk van die Nuwe Testament. Oor vyf dae vier ons weer Pinksterdag en daarom is dit goed om ook 'n agtergrond te kry van Pinkster in die Ou Testamentiese konteks. Die volgende aanhaling in hierdie verband kom uit die boek van dr Okke Jager: Daglicht, Bijbels dagboek.

Dit is baie duidelik dat daar 'n verband bestaan tussen die uitstorting van die Gees en die (Ou Testamentiese) Joodse Pinksterfees of oesfees (Fees van die Weke) waarop die eerstelinge van die oes aan God afgestaan is**. Maar ons is geneig om die ánder verband tussen die Christelike en Joodse Pinksterfees oor die hoof te sien. Die Jode het op die oesfees ook die instelling van die Wet op Sinaï herdenk. Volgens hulle oorlewering is die Wet vanaf Sinaï in alle tale verkondig, sodat alle volke daarvan kennis kon dra. As aan 'n Jood gevra word: “Waaraan laat SinaI jou dink?” dan het hy gesê: “Pinkster, die Wet, vuur, 'n geweldige geluid, 'n rokende berg, die nabyheid van God, die vrees van die volk en die proklamasie van die Wet in alle tale ter wille van die volke.” En al hierdie elemente vind ons terug in die Nuwe Testamentiese Pinksterverhaal!

As jy Eksodus 20 en Handelinge 2 langs mekaar neerlê, dan sien ons:
Eksodus 20:  “En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk......”
Handelinge 2: “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien....”

Eksodus 20: “Maar Moses het die volk geantwoord: 'Moenie bang wees nie, want God het gekom...'”
Handelinge 2: “Almal is met die Heilige Gees vervul.

Eksodus 20: “Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe.”
Handelinge 2: “En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war.” (53-vertaling).

As ons so heen en weer tussen Eksodus en Handelinge blaai, sien ons twee beelde wat inmekaar skuif: die rokende berg en die vlam op die hoof van Petrus. Hulle vloei inmekaar: die geweldige berg met vuur aan die top – en die prominente hoof van die apostel met 'n vurige tong gekroon. Dit is asof die vuur van Sinaï neergedaal het op die hoofde van die mense. Daar was vuur – dit is Ou Testamenties. Die Gees vertoon Hom as tonge van vuur – dit is die Nuwe Testament.

Daar is twee woorde wat vlammend na vore kom: “op elkeen”. Die vuur was altyd daar, maar nou kom dit neer op die mense. Eksodus 20: “Die volk ... het op 'n afstand bly staan”. Handelinge 2: “Op elkeen!” Die afstand tussen die top van Sinaï en die volk in die dal het verdwyn. God het afgedaal. Moses sê: “God het gekom” en wys op in die hoogte:”Sien julle die rokende berg?” Petrus sê:”God het gekom,” en sy oë straal: “kyk maar na ons.”

Die bedeling van die Gees het die bedeling van die Wet vervang. Weet jy van wie ons die inspirasie kry om heen en weer na Eksodus en Handelinge te kyk? Ons kon dit afkyk van Jeremia. Hy het gesê dat God 'n nuwe verbond sou sluit, nie soos die verbond in die woestyn nie: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart” (Jer 31:33; 53-vertaling). Die vuur het van die berg gedaal na die mens. Dan sien ons Petrus staan: “Die Here is onder hulle, 'n Sinaï in heiligheid” (Ps 68:17).

Aangehaal uit: Daglicht, Bijbels dagboek, deur dr Okke Jager.

** Lees ook: Pinkster: die uitstorting van die Heilige Gees
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css