Die Weg

 

Hemelvaart – die feestelike afskeid

(Lees ook die vorige twee boodskappe)

Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.” - Lukas 24:51-53.

'n Mens kan jou nie indink dat die dissipels met groot blydskap na die vyandige Jerusalem sou terugkeer nie, maar hulle het! Hulle kon nie uitgepraat raak oor wat gebeur het nie en het God geprys. 'n Mens sou iets anders verwag het ná die afskeid van Jesus. Moes hulle nie wanhopig gevoel het nie? Hoe sou hulle sonder hul geliefde Meester klaarkom? Moes hulle ten minste tog nie getreur het nie? Hulle sou hom tog nou elke dag mis. Wie sou hulle nou onderrig, lei, advies gee, vermaan en vertroos? Sonder Hom was hulle niks.

Maar kyk na hierdie wonder! Die dissipels is uitbundig bly na die afskeid en hemelvaart. Hulle kom in die tempel saam om God te prys – 'n gevaarlike plek vir almal wat in Christus geglo het. Hulle doen dit waarskynlik ook nie stilweg uit vrees vir die lede van die Joodse Raad nie. Hulle sou wel op tipies Oosterse wyse hulle feesvreugde luidrugtig gevier het.

Wat is die geheim van hierdie feestelike afskeid? “Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan.” Jesus se seën is nie 'n magtelose wens nie, maar 'n magtige daad!

Wat beteken die seën vir ons? Omdat ons onder sy seën leef, is Hy teenwoordig en hoef ons vir niks te vrees nie; is daar blydskap selfs in die moeilikste omstandighede. Onthou die woorde van Jesus in Mattheus 28 vers 20: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css