Die Weg

 

Oor die hemelvaart – God vaar op met gejuig (1)

God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank.” - Psalm 47:6 (53-vertaling).

Die Here kon nie opvaar as Hy nie eers neergedaal het nie (vgl Ef 4:9). Die Here het Hom in ontferming na ons neergebuig, Hy het ons vanuit sy heiligdom besoek en aarde toe gekom.

Al het God die Here Hom in lankmoedigheid tot ons neergebuig, kan hierdie aarde nie sy woonplek wees nie. Dit hoor ons in Psalm 68 waarin gesing word van die God van Israel wat tot sy volk afgekom het en saam met hulle deur die woestyn getrek het. Uiteindelik is daar 'n sigbare plek vir Hom in die tempel op die Sionsberg berei as beeld en afskaduwing van sy gedugte paleis in die hemele.

En dit hoor ons ook hier in Psalm 47 toe Israel in die dae van Josafat in benoudheid verkeer het. Toe die priesters saam met die slagordes van Israel die stryd tegemoet getrek het, het die HERE saam met hulle uitgetrek en het Hy alle vyande van Israel voor sy aangesig verdryf. En ook met die terugkeer van die slagveld, het Israel se God met hulle na Sion teruggekeer.

En tog, as die psalmdigter sing van “God vaar op met gejuig” in Dawid en Josafat se dae, is dit profetiese woorde wat later weerklank sou vind by Jesus se hemelvaart. Want immers is God se eintlike vyande en die vyande van sy uitverkore volk nie Ammon of die Filistyne nie, maar wel die magte van die duisternis, van sonde, dood en hel wat hierdie aarde van God vervreem. As God dit nie voorkom het nie, sou hierdie aarde hom in 'n reddelose verderf bevind het.

En daarom was al die stryd van God vir sy volk Israel net 'n voorspel en aanduiding van wat sou kom. Want dit was nie die eintlike stryd nie. Die eintlike stryd het eers gekom toe Maria haar kind in die wêreld gebring het; toe God in Christus neergedaal het om die werke van die duiwel te verbreek en aan die kruis die versoening teweeggebring het. Met sy opstanding het Hy die mag van die sonde, dood en hel vernietig. Toe eers is die einddoel van God se weë geopenbaar. Toe eers is die wesentlike vyande van God in die hart getref. Toe eers het God eens en vir altyd sy uitverkore volk vrygemaak van “die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, van die bose geeste in die lug” (Ef 6:12). En toe eers kon dit tot die eintlike Hemelvaart kom.

'n Seëvierende Koning, ons God, wat uit sy paleis van heerlikheid uitgetrek het en neergedaal het na hierdie sondige wêreld om sy vyand Satan, Dood en Hel die oorlog aan te sê. Nou, na die oorwinning waarin Hy getriomfeer het oor hierdie magte van die duisternis, het Hy seëvierend opgevaar na sy gedugte paleis in die hemele.

Hieruit verstaan ons wat die hemelvaart van Jesus was. Dit is volstrek nie maar net 'n weggaan van Jesus omdat Hy nie meer hier kon bly nie. En ook nie 'n terugkeer van Jesus na die hemel omdat Hy daar tuishoort nie. Nee, dit is 'n triomftog van 'n Koning wat sy vyande met alles aan Homself onderwerp het. Daarom kon die psalmdigter juig: “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” (Ps 24:7; 53-vertaling). En op die vraag: “Wie is dan tog die Erekoning?”, antwoord almal wat met Hom optrek: “Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.”  En as daar nogeens geroep word: “Wie is dan tog die Erekoning?”, weerklink die dawerende refrein: “Die HERE van die leërskare - Hy is die Erekoning!

(word vervolg)

Uit: Vier uwe Vierdagen, deur dr A Kuyper (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css