Die Weg

 

Bevry van paniekgedagtes

Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” - Johannes 14:1-3.

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” - Johannes 14:27.

Kort voor die ontsettende drama van die kruisiging maak Jesus sy testament aan die dissipels bekend. Daar was geen geld of goed wat Hy kon verdeel nie. Hy laat wel iets besonders agter wat met geen goud gekoop kan word nie: vrede. Maar 'n buitengewone vrede, omdat sowel die inhoud van die vrede, as die manier waarop Hy die vrede gee, radikaal verskil van dít wat die wêreld gee.

Meestal hou die vrede wat die wêreld aanbied, die kiem in vir die volgende onvrede en oorlog. Die oorwinnaar probeer om soveel as moontlik uit die oorwonnene te verkry. Maar dit is nie hoe Jesus dit doen nie. Hy het as oorwinnaar self die restitusie (skadevergoeding) met sy eie bloed betaal. Paulus noem dit: “vrede deur die bloed van sy kruis” (Kol 1:20; 53-vertaling). Hierdie goddelike oorwinnaar bied 'n vrede aan waarvoor Hyself betaal het. Só 'n vrede gaan alle verstand te bowe. Hoe kan so iets bestaan? Ja, dit bestaan alleen by Jesus Christus. Dit is met opset dat Jesus vlak voor sy lyde en sterwe van hierdie nalatenskap praat: “Moenie dat julle harte ontsteld wees nie”, dws, moenie dat paniekgedagtes die oorhand oor julle kry nie (Joh 14:1).

Hoe gebeur dit dan dat die dissipels tog volkome platgeslaan was by die veroordeling en kruisiging van Jesus? Jesus het wel hierdie vrede aangebied, maar 'n mens moet die vrede ook deur die geloof aanneem. Die vrede kom nie vanself nie. Die fout wat die dissipels gemaak het, was dat hulle op daardie kritieke tyd gekyk het na die nagmerrie van Judas se verraad, Kajafas, Pilatus en Petrus wat sy Here verloën, en van hulle eie lafhartigheid, maar nie na die erfenis van vrede nie. Ons moenie die skuld by Jesus soek wanneer ons geen vrede met God, met onsself en met ons lot het nie, want ons kyk ook in die verkeerde rigting. Mense sê soms sinies: die engele het gesing van vrede op aarde, maar kyk al wat ons sien is oorlog en rusie.

Dit is geen wonder nie, omdat die vrede van God alleen kom in soverre as wat ons die Vredevors aanneem. En juis dáár lê die knoop, want ons kyk in die rigting van die wêreld. Jesus Christus wil ons juis bevry van al ons paniekgedagtes en onvrede. Kyk na Hom en nie na die wêreld nie!

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css