Die Weg

 

Laat ons werk solank dit dag is

So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.” - Johannes 9:4.

“Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” - Efesiërs 5:15-16 (53-vertaling).

Mense wat uit die geloof lewe, het iets van die ewige jeug in hulle. Ons kan dit ook só stel: vir húlle wat in die ryk van God lewe, maak dit nie veel saak of hulle jonk, middeljarig of oud is nie. As God in Christus koning van ons lewe is, leef ons alreeds die ewige lewe. Die uiterlike van die verskillende leeftye is bysaak, want dit gaan verby.

Die jeugdige gelowige werk in die koninkryk hier benede asof hy môre weggeneem kan word na die ryk daarbo. En die bejaarde gelowige werk met 'n lewenslus asof daar nooit 'n einde aan sy werk sal kom nie. Daar kom ook geen einde aan die ryk van God nie. Daar kom net 'n einde aan die tydelike lewe. As ons net werk vir die tydelike lewe, sal ons gebuk gaan onder die besef dat die aand spoedig vir ons sal daal, en kom die tergende vraag: Is dit dan nog die moeite werd om met iets nuuts te begin?

Ja, dit is die moeite werd as dit betekenis het vir die koninkryk van God. Elke werk vir die ryk van God gaan voort, ook al lyk dit asof dit deur die nag van die dood afgebreek sal word.

Met die nag voor Hom het Jesus net nog harder gewerk. En dit geld ook vir ons. As ons môre weggeruk word terwyl ons nog besig is om te werk, sal dit glad nie so tragies wees as wat ons in ons ongeloof dikwels dink nie, want “gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.” (Mat 24:46).

Laat ons dan werk solank dit dag is. Dit is onbelangrik of ons dag uit 3 ure of 24 ure bestaan. Die dae wat God aan verskillende mense in sy ryk gee, is nie altyd ewe lank nie, maar die dae is altyd vol, omdat hulle sinvol en ewig is.

Dit is dus belangrik dat ons, hoe jonk of oud ons is, ons werk met vreugde in ons gemoed sal doen. Laat ons soos verstandiges leef, wat in elke uur 'n geleentheid sien om die ryk van God te dien en te bevorder.

Uit: Venster op het leven, deur ds J Overduin.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css