Die Weg

 

Krisis, watter krisis?

Wees maar net stil tot God.....” - Psalm 62:6 (53-vertaling).

Die wêreld is in 'n krisis. Sommige verslaggewers noem dit die grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die mense leef in vrees vir 'n onbekende bedreiging. En dit is juis hierdie vrees wat aanleiding gee tot die ondeurdagte optredes van mense. Jy wil iets doen om die vrees te besweer. Maar hoe harder jy probeer, hoe meer pak die angs jou beet en jaag jy jou eie emosies en die van ander op hol.

In enige krisistyd is dit nodig om beheer oor jou gedagtes en emosies te behou. Want as jy eers beheer oor jouself verloor; as jou gedagtes en emosies met jou op loop gaan, verloor jy perspektief op die werklikheid. Angs en paniek laat die deur dan wawyd oop vir mense wat die situasie tot hul eie voordeel wil uitbuit.

Vir die gelowige is krisistyd egter inkeertyd. Dit is die tyd om rustig oor alles na te dink en nader aan God te beweeg. En wie kan dit beter verwoord as Dawid: “Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep. As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!” (Ps 4: 4-5) en “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.” (Ps 62:6-7). “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (Ps 62:6 53-vertaling).

Hoekom moet ek stil word? Sodat ek alle kanale oop kan hou om die volle krag van die gemeenskap met God tot my beskikking te kan hê. Gebed is nog altyd die asem van die siel genoem. En jy kan nie asemhaal as jy in paniek verkeer nie.

Moenie dat die huidige omstandighede jou volkome oorgawe en toewyding aan God oorskadu nie, hoe oorweldigend die dinge wat gebeur ook al mag lyk. “Wees maar net stil tot God”; laat die leiding aan God oor en wag en luister wat Hy aan jou wil sê. As die krisis dreig om jou te oorweldig, maak tyd om alleen met jou Vader te wees omdat Hy groter is in jou lewe as die vermeende krisis.

Wees wys en stel God voorop. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. (Jak 1:5-6).

- dw -

Lees gerus ook die volgende:
Om nie deur vrees verlam te word nie

Waarom die paniek?

Wanneer vrees die wêreld beetpak

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css