Die Weg

 

Die goeie nuus

Daar is mense wat sê hulle luister nie meer na die nuus of lees die koerant nie, want die nuus oor ons land maak hulle mismoedig. Die probleme van ons nasie is tans so baie en so diep gesetel dat ’n mens wel so ’n houding kan verstaan. Maar wat wil die Here vir ons oor hoop en wanhoop sê?

Jesaja is vir baie bybelwetenskaplikes die grootste figuur in die Ou Testament. Ons kan na sy boek blaai. Hy het met sy mense gepraat toe hulle omstandighede onbeskryflik donker was. Hulle samelewing was so sondig dat Jesaja die vreeslikste straf van die Here oor hulle aangekondig het. Dit het hulle laat bewe, want hulle was bewus van die groei van die magtige Assiriese ryk en was doodsbenoud dat die Assiriërs hulle sou kom plattrap en wegvoer.

Maar na hy hulle bestraf het, kyk Jesaja verder en sien hy ’n wonderlike ligskynsel in die toekoms. Daarom sê hy: “Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier’ … [na 'n tyd sal julle] terugkeer en juigend in Sion aankom'” (Jes 35:3,4,10).

Waarom praat Jesaja in sulke stikdonker omstandighede tog so? Omdat die geboortereg van die gelowige geloof, hoop en liefde is – ja, ook hoop. Wanhoop beteken dat ’n mens die deur in God se gesig toeklap. Die toekoms behoort aan die Here en as ons dit sonder hoop tegemoet gaan, beteken dit ons is besig om dit sonder die Here tegemoet te gaan.

Hy is nou by ons en sal al ons dae by ons wees. Hy sal nie ophou om vir ons goed te wees nie, want dit is sy wese. Sy goedheid beteken nie altyd lekker omstandighede nie. Soms lê dit dieper en kosbaarder. Maar dis nóú met ons en sal ons volg net waar ons gaan, ook al sou ons daarvoor probeer vlug.

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css