Die Weg

 

Die Here lei ons ook deur ons probleme

“Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” - Handeling 16:6-7.

Dit handel hier oor Paulus se reis deur die huidige Turkye. Sy doel was om weswaarts in die rigting van Efese te reis, maar die Heilige Gees het hulle “verhinder”. Toe hulle verder noord na Bitinië wou gaan, het die Heilige Gees “hulle dit nie toegelaat nie”. Daarop besluit hulle om dan na Troas te gaan waar Paulus sy groot roeping ontvang het wat die Christendom na Europa sou versprei. 

Hoe het die Gees hulle gekeer? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar daar is ’n aanduiding dat dit heel moontlik Paulus se siekte was. Ons moet onthou dat die boek Handelinge deur Lukas geskryf is. In vers 10 skryf Lukas skielik nie meer in die derde persoon nie, maar in die eerste persoon meervoud: “ons”. “Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.” Dit wil sê Lukas, die dokter, het by Paulus se geselskap aangesluit. Moontlik omdat Paulus soveel probleme met sy gesondheid opgetel het dat hy ’n lyfarts op reis nodig gehad het.

As dit so is, klop dit met hoe ons Paulus in al sy briewe leer ken het. Vir hom is probleme maniere waarop die Here werk (vgl Rom 5:3; 2 Kor 12:7-10). Sy siekte is vir hom swaar. Hy ontken dit nie, maar hy staan nie negatief daarteenoor nie. Hy hoor die leiding van die Here daarin. As hy dit nie kon hoor nie, was ons menslik gesproke vandag nie Christene nie.

Die lewe is vol probleme. Een groot waarde van ons geloof is dat dit ons lei om nie toe te laat dat ons probleme ons aftakel nie. Ons hoef hulle nie net passief te verduur nie, maar kan hulle aanneem as ons s’n, waardevol vir ons, want die Here is daarin en werk daardeur.

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css