Die Weg

 

Die hoop wat ons deur die lewe dra

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” - 1 Petrus 3:15.

Ons het 'n lewende hoop wat ons van dag tot dag deur die lewe dra. In die aanhef tot sy eerste brief, skryf Petrus: “In sy groot ontferming het Hy [God] ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop.” (1 Pet 1:3). Verder in die brief beskryf hy hoe die hoop wat in ons is, ons lewens verander.  In hoofstuk 3 sê hy dan: “ons moenie vir mense bang wees of ons laat afskrik nie” (v 14), want hierdie hoop strek ver verby die daaglikse lewe, en dit word deur Jesus Christus gewaarborg. God het hom uit die dood opgewek en Hy leef. En nog baie meer as dít: Hy woon in ons! Hy deel sy lewe met ons en wil hê dat ook ons lewens veel vrug sal dra. “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh 15:5; 53-vertaling).

Met hierdie volkome sekerheid kan ons met selfvertroue alle uitdagings tegemoet gaan wat vandag oor ons weg kom. Jesus Christus sal ons die krag gee om dit te doen, selfs al sou ons hoop met minagting bejeën en ons geloof aangeval word.

Omdat ons harte met hoop gevul is, kan ons dit nie vir onsself hou nie. Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Daarom moet ons hierdie hoop oordra sodat ander ook aangesteek kan word. Gevul met hierdie hoop word ons getuies vir ons Here wat in ons woon en deur ons werk.

Christa Grau in Neukirchener Kalender 2020 (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css