Die Weg

 

Die waarde van bekommernisse

Ons het dikwels bekommernisse, en dis nie lekker nie.

Maar hulle kan vir jou 'n waarde hê. As jy een van hulle voel, is dit vir jou 'n boodskap, 'n uitnodiging om na die HERE te draai tot daar iets groots gebeur ...

Filippense 4:6 verduidelik dit: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

'n Bekommernis is 'n gevoel wat vra om vir die HERE gegee te word. Ja, gegee, want as jy “smeek en dank”, beteken dit jy noem dit nie net vir die HERE nie, maar vra dit met jou hele hart en voel dan dankbaar dat jy weet Hy neem dit.

Dan gebeur daar iets wat jy nie kan regkry of verstaan nie. 'n Bekommernis is gewoonlik 'n gestoei van jou gedagtes om uit die slegte gevoel te probeer uitkom, maar die gestoei maak dit net erger. God laat iets gebeur wat jy nie met eie gedagtes kan bereik nie, dit “oortref alle begrip”.

Hy laat 'n vrede oor jou neerdaal. Die vrede “waak” oor jou gevoelens en gedagtes. Die probleem is nie weg nie, maar jy is op 'n ander plek, “in Christus Jesus” waar jy vasgehou word deur Iemand Groter, ver bo jou begrip.

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css