Die Weg

 

Fees sonder einde

Verwyder die ou suurdeeg sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, Christus, is geslag. Laat ons daarom feesvier, nie met ou suurdeeg, die suurdeeg van kwaad en boosheid nie, maar met die ongesuurde brood van opregtheid en waarheid” - 1 Korintiërs 5:7-8 (direkte-vertaling).

Ons vier fees, en ons fees is betaal met die offer van die Lam. Die Lam, Christus, is geslag sodat óns kan feesvier. As daar geen Lam is nie, is daar ook geen fees nie. Dit is aangrypend om selfs net daaraan te dink!

Maar die slagting van die Lam, hoe ontsettend ook in sigself, mag ons nie van die feesviering weerhou nie. Die slagting mag die feesvreugde nie demp nie. Die gevaar bestaan egter dat “fees” verkeerd verstaan word. Egte feesviering is 'n groot en diep saak, want om fees te vier is om iets of iemand te gedenk. Dit gaan gepaard met eerbetoon, huldeblyke en dankbetuigings. Daarom moet daar feesgevier word tot eer van die Lam.

Die woord “daarom” staan heel saaklik in ons teksgedeelte. Die Lam is geslag, derhalwe dring Paulus aan op die feesviering. Omdat die Lam geslag is, daarom kán en móét daar feesgevier word. Die Lam geelewe, sodat óns kan feesvier. Ons eer sy offer met ons fees.

Maar “feesdag” is 'n begrip wat vir die fees van die Lam veels te eng is. Die feit is dat nadat die Lam eenmaal geslag is, daar geen verdere feesdae meer is nie. In “laat ons daarom feesvier” word nie gepraat van 'n dag of dae nie. Dit is nie 'n geval van nou en dan, af en toe feesvier nie; dit is altyd fees. Die hele lewe word omskep in 'n fees. Die opdeling van ons dae in gewone dae en feesdae, dit wil sê, in grou, triesterige en kleurlose dae en in feestelike uitgaan-dae, is heel onchristelik. As ons Lam waarlik geslag is, moet dit voortdurend fees wees. “Laat jou klere altyd wit wees.” (Pred 9:8; Op 3:18). 

Die Lam is nie geslag vir 'n fees-dag nie, maar vir die fees-lewe. Die Lam bring vir ons 'n fees oor ons hele lewe. Ons word feestelike mense; nie met rooi opgemaakte feesneuse nie, maar met feestelike harte, met feestelike oë en feestelike gesigte. Ja, dan word selfs die moeilike dagtaak en ook die sleurwerk in die kantoor, fabriek of huishouding deel van die fees. Selfs die ontstellende, beledigende en bittere voorvalle, selfs die groot verdriet en diepe teleurstelling verloor hul angel en vretende vuur. Sekerlik bly ons gewone menslike mense by wie die leed nie verbygaan nie, maar tog kan dit ons fees nie aantas nie. Ons kan die mooiste psalms in die donkerste nagte sing.

Die Israeliete het in Egipte fees gevier terwyl hulle gereed gestaan het vir die reis; met die staf in die hand, die lendene omgord, en skoene aan hul voete. Hulle het op reis gegaan mét hulle fees. Hulle het vertrek vanaf die klein fees na die groot fees – die intog in Kanaän. Ons fees word in die hemel-perspektief gevier. Dáár sal ons ewig feesvier - die fees van die bruilof van die Lam (Op 19:7-9). Inderdaad, die fees sonder einde!

Uit: De Stem achter U, deur Ds Gabe van Duinen (verkort en aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css