Die Weg

 

Paasfees (2): Dit is volbring

“En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.” - Johannes 19:30 (53-vertaling).

“Dit is volbring.”

Watter mens kon ooit hierdie woorde op die laaste oomblikke van sy lewe uiter? Wie kon dit sê (soos wat hier gebeur het) voor die aangesig van God? Kyk na die situasie: hier kom 'n kneg by sy heer om verslag te gee van sy opdrag; hier kom 'n gesant vanaf sy missie terug by sy koning. Hier kom 'n mens met sy lewe en werk terug by God wat aan hom 'n lewensopdrag gegee het. Hierdie situasie het betrekking op Jesus Christus. Hoor dan wat Hy sê: Hy sê nie: “gelukkig, dit is verby” nie. Wanneer Hy sy werk voor God neerlê, sê Hy: “dit is volbring”.

Kan ons daardie woorde ook sê? As ons op ons uiterste lê (al het ons 'n vol lewe gehad), lê die briewe nog half geskryf op ons skryftafel waar die pen uit ons hand geval het; staan ons bouwerk nog half voltooi langs die weg; is ons planne nog onafgehandel, ons drome onvervuld. Ons is dalk midde in ons werk weggeroep en ineens weggeruk. Wie is gereed as die dood kom? Wie kan in vrede en gerustheid die gees gee omdat alles voltooi is?

Wat praat ek van – volbring? Hoeveel miljoene blaas nie hul laaste asem uit nie met die sug: “dit het misluk. My taak het misluk, my geluk het misluk, my lewe het misluk.” Hoe ontsaglik baie dinge is daar in ons lewens wat verkeerd geloop het en nooit weer reggemaak kan word nie! Vlekke wat nie uitgewis kan word nie; skeure, barste en duike wat nooit opgevul sal word nie. Dít hoor ek by die sterfbeddens van mense. Daar is egter maar net één sterfbed, waar jy dit (as jy dit sou kon vra) nie sal hoor nie. Dit is daardie wonder sterfbed van spykers en dorings en moord en bloed. Die grootste uitsondering onder alle sterftes. Uniek in die gebied van sterwe in die wêreld. Wat nog nooit deur 'n mens op sy laaste gesê is nie (gesê kon word nie, durf gesê te word nie), dit sê Hy: “dit is volbring”.

Wat is volbring? Dit kan die beste gesê word met die antwoord wat Hy as 12-jarige kind aan sy moeder gegee het toe sy Hom gesoek het: “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Luk 2:49). Dít is wat Hy volbring het. Hy het die dinge van sy Vader volbring. Dit was die wesenlikheid, die bestaansrede van sy lewe en sterwe. Aan sy dissipels het Hy gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34). Vanaf sy eerste bewuswording van die lewe het Hy “die dinge van sy Vader” op sy hande en op sy hart gedra. En nou, hier op Sy laaste, dra Hy dit nog steeds. Dit is nou sy laaste gedagte.

“Die dinge van My Vader.” Al hierdie dinge loop vir Christus op één ding ten einde. Dit is die groot en vername taak wat die Vader aan Hom opgedra het – waarom die Vader Hom na hierdie wêreld gestuur het – en waarvoor Hy Hom vrywillig as offer gegee het. Al sy woorde en werke, sy lyde en sterwe word in een woord saamgevat: offer. Hy is die werklike offerlam wat die sonde van die wêreld wegneem.

Dít is nou volbring. “Vader – hier is My opdrag en daar is my werk. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. Ek het mens geword. Ek het die wraak op die sonde van hierdie wêreld met My eie dood op Myself geneem.” Nou kan die wraak opgehef word.

Watter oorstelpende einde! Die sterwende mond roep luid: “oorwinning!” Christus se dood is Christus se triomf. “Dit is volbring!

Jesus Christus op sy laaste, is die houvas, die hoop, die heerlikheid vir ons op ons laaste. Ja, ons het deel en lot in hierdie saak. Vandag Hy, môre ons. Môre sal óns op ons einde lê. Ons wil nie daaraan dink nie, maar dit is tog so. Dan sal ons nie kan sê: “dit is volbring” as ons ons laaste asem uitblaas nie. Dit bestaan nie. As ons so dink, is dit 'n verskriklike leuen.

Tog is dit heerlik – wanneer die angstige doodsweet oor ons kom, wanneer ons hande tastend na houvas soek en ons oë breek – dat ons weet dat ons deel het aan Sý: “dit is volbring”. 

Here Jesus, U versoenende sterwe bly die rusplek van ons hart.

Uit: Zie ... Hier is uw God, deur ds Gabe van Duinen (verkort).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css