Die Weg

 

Hoop as basis vir die sin van die lewe

Gister het ons die sin van die lewe effens aangeraak. Vandag kan ons dieper daarna kyk aan die hand van Viktor Frankl se boek: “Trotzdem Ja zum Leben sagen - Ein Psychologe erlebt das Konzentrationslager.

Viktor Frankl skryf:

... Op 'n keer het ek op baie dramatiese wyse die verband tussen die verlies aan hoop en die totale aftakeling van 'n mens beleef. F-, die hoofbewaarder van my blok, 'n baie bekende komponis en librettis, het my eendag in sy vertroue geneem: “Dokter, ek wil u graag die volgende vertel. 'n Stem het aan my gesê dat ek enigiets kon wens, en dat ek moet sê wat ek wil weet, dan sal al my vrae beantwoord word. Wat dink u het ek gevra? Dat ek graag sou wou weet wanneer die oorlog vir my verby sou wees. U weet wat ek bedoel, dokter – vir my! Ek wou weet wanneer ons, wanneer ons kamp bevry sou word en al ons lyding tot 'n einde sou kom.

“En wanneer het jy hierdie droom gehad?” het ek gevra.
“In Februarie 1945” was sy antwoord. Dit was toe die begin van Maart.

“Wat het jou droomstem geantwoord?”
Hy het onderlangs vir my gefluister: “Op 30 Maart.”

Toe F- sy droom aan my vertel het, was hy nog hoopvol en het hy vas geglo aan die stem in sy droom. Maar soos die beloofde dag nader gekom het, was dit duidelik uit die nuus wat die kamp bereik het, dat dit onwaarskynlik was dat ons op die beloofde tyd vry sou kom. Op 29 Maart het F- skielik siek geword en 'n hoë koors ontwikkel. Op 30 Maart, die dag in sy droom, het hy begin yl en sy bewussyn verloor. Op 31 Maart het hy aan tifus gesterf.

Vir dié wat die noue verband besef tussen 'n mens se gemoedstoestand – sy moed en hoop, of die gebrek daaraan – en die immuunstelsel van die liggaam, sal verstaan dat die skielike verlies aan hoop 'n dodelike effek kan hê. Die uiteindelike oorsaak van my kameraad se dood, was dat die verwagte bevryding nie gekom het nie en die ontnugtering sy liggaam se weerstand teen die latente tifusinfeksie afgebreek het. Sy hoop op die toekoms en sy wil om te leef het in duie gestort. Sy liggaam het die prooi van die siekte geword.

Die waarnemings in hierdie geval en die gevolgtrekkings daaruit was in ooreenstemming met iets wat die hoofdokter van ons konsentrasiekamp vir my vertel het. Die aantal sterftes in die kamp het naamlik tussen Kersfees 1944 en Nuwejaar 1945 alle vorige rekords oortref. Volgens sy opinie was dit nie as gevolg van die moeiliker werksomstandighede, die verswakking van die voedsel voorsiening, die verandering van die weer of nuwe epidemies nie. Dit was dat baie van die gevangenes in die naïewe hoop geleef het dat hulle teen Kersfees tuis sou wees. Soos die tyd nader gekom het en die nuus nie baie bemoedigend was nie, het die gevangenes moed begin verloor en die moedeloosheid en teleurstelling het sy tol geëis. Dit het 'n dodelike invloed op hul kragte en weerstand gehad en 'n groot aantal het gesterf.

Soos voorheen gesê is, moes enige poging om die mense in die konsentrasiekamp innerlik weer sterk te maak, voorafgegaan word deur hulle te wys op 'n toekomstige doel vir die lewe. Hier kom die woorde van Nietzsche te pas:  “Wie 'n 'waarom' besit waarvoor hy of sy lewe, kan byna elke 'hoe' te bowe kom.”  Wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, moes jy die gevangenes bewus maak van  'n “waarom”, 'n lewensdoel, sodat hulle versterk kon word om die ontsettende “hoe” van hul bestaan te kon verdra.

Wee hom wat geen sin meer in die lewe sien nie, geen doel het nie en niks het om na te strewe nie. So 'n persoon is verlore. Wanneer jy so 'n persoon probeer bemoedig is die tipiese antwoord: “Daar is niks in die lewe vir my meer oor nie”.

Wat regtig nodig is, is 'n fundamentele verandering in so 'n persoon se houding teenoor die lewe. Wat ons vir onsself moet leer, en verder, wat ons vir die desperate mense moet leer, is dat dit nie werklik saak maak wat ons van die lewe verwag nie, maar wat die lewe van ons verwag....

.... Om te lewe beteken om die verantwoordelikheid te neem om die regte antwoorde vir die probleme van die lewe te soek en jou lewenstaak na die beste van jou vermoë uit te voer.

(Tot hiertoe die aanhaling)

Ook ons aardse stryd, nadat ons ons verantwoordelikhede nagekom het, en alles gedoen het wat ons moes doen, kom tot 'n einde. Dan sal ons ook tuiskom in die Vader se huis. En dan in die woorde van Viktor Frankl: “Die toppunt van alle ervaringe vir die mens by sy tuiskoms is die heerlike gevoel dat na alles wat jy gely het, daar niks meer is wat jy op die wêreld hoef te vrees nie – behalwe jou God.”

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css