Die Weg

 

Die wêreld in 'n krisis en die sin van die lewe

Jesus antwoord hom: 'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself...'”- Mattheus 22:37-39.

Die wêreld staan aan die begin van 'n geweldige krisis. Wat ons nou sien is nog maar die voorspel. Die implikasies en die gevolge van die korona-krisis kan selfs nog groter wees as die uitwerking van die virus self.

Maar nou moet 'n mens baie lig loop om nie hierdeur ontsteld te raak nie. Want wat in die afgelope dekades gebeur het, was dat die mens die werklike sin van die lewe verloor het. Ons het in 'n ongenaakbare wedloop beland waar baie mense net op hulself en hulle eie vooruitgang gefokus het, sonder om te besef dat daar mense om hulle heen is wat ook deel van hul lewens behoort te wees.

Vir elke mens is sy eie krisis die grootste krisis wat kan bestaan. En wat tans as krisis beleef word, kan in geen mate vergelyk word met die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog nie. Nogtans is dit altyd goed om terug te kyk hoe ander mense erge krisistye deurstaan het, en dan self iets daaruit te leer.

Ek het al in die verlede vir Viktor Frankl aangehaal. Viktor Frankl was o.a. hoogleraar in neurologie en psigiatrie aan die universiteit van Wenen se Mediese Skool en professor in logoterapie aan die United States International University in San Diego, Kalifornië. Hy was een van die min oorlewendes van die Nazi-konsentrasiekamp Auschwitz. Victor Frankl se boek “Ein Psycholog erlebt das Konzentrationslager” is in vele tale vertaal, o.a ook in Chinees en Japannees. Die Amerikaanse weergawe van die boek, getitel: “Man's Search for Meaning”, is in Afrikaans vertaal deur Daniël J Louw.  In sy voorwoord skryf Louw die volgende:

“Die lyding van die kamplewe vlek 'n dieper lyding oop: die lyding in die ek of self van die mens. 'n Sinvolle en verantwoordelike lewe begin eers dáár waar die mens langs die pyn en lyding van selfverloëning van sy selfsug verlos word. So 'n wyse van lewe beteken 'n radikale omkering in die vraag na die sin van die lewe: jy vra nie meer wat is die sin van die lewe vir mý nie; maar watter sin gee ek aan die lewe.

“Wie langs die pyn van selfverloëning sy ware self gevind het, sal in sy soeke na sin die volgende ontdekking maak: om sinvol te lewe is nie om iets van die lewe te verwag nie, maar is om te weet dat die lewe iets van my verwag. Die lewe verwag van my die verantwoordelikheid van die liefde. Dit is die boodskap van nommer 119104, Auschwitz 1945!”

Watter sin gee jy aan die lewe? Niemand kan vir jou sê wat jy moet doen nie. Dit wissel van persoon tot persoon. 'n Mens moet eerder kyk na die sin agter elke situasie, want elke situasie is uniek. Geen mens en geen lot kan met 'n ander vergelyk word nie; geen situasie herhaal homself nie. En in elke situasie word mense geroep om anders op te tree.

Wat wel sin maak is dat jou gewete jou sal oproep om te reageer, om die lyding van ander raak te sien. Jou taak is dan om verantwoordelik daarop te antwoord. Niemand anders kan dit namens jou doen nie.

Dit is eers wanneer ons bostaande besef dat ons uitdrukking kan gee aan die Here Jesus se oproep: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand....... Jy moet jou naaste liefhê soos jouself....” Daardeur kan jy sin gee aan die lewe.

-dw-

Verwysings:
Viktor Frankl. Waarom lewe ek (Man's Search for Meaning, vertaal deur Daniël J Louw).
Viktor Frankl. Trotzdem Ja zum Leben sagen.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css