Die Weg

 

Wanneer die genadetyd verby is

Toe het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.”  - Mattheus 11:20-24 (53-vertaling).

Die Here het gespreek. Hy het met mense gepraat. En Hy spreek nou nog steeds in verstaanbare taal. Hy praat onophoudelik met mense. Hierdie is van die aangrypendste waarhede wat die Woord van God verkondig. Dit is die kosbaarste besit van die gelowige om te weet dat die Almagtige eenmaal gespreek het om die ewige lewe in die mens wakker te roep, en dat die gelowige van daardie dag af die taal van die Vaderhart verstaan wanneer Hy met hom praat. Wat sou die toestand van die wêreld gewees het indien God na die sondeval sou swyg? Dit sou die verdiende loon van die gevalle skepsel gewees het. Maar sou die Vader in die verlossingswerk van die Seun verheerlik gewees het? Sou ons die ontfermende Vaderhart ooit kon geken het?

Soos Hy reeds by die skepping deur kragtige dade gespreek het, so spreek Hy ook by die herskepping van die mensehart. Die gawe van Jesus Christus was 'n daad van goddelike liefde en ontferming. Die wonder wat deur die wedergeboorte in die harte van mense plaasvind, is die taal van 'n ontfermende God. Die kragtige dade, waarvan die Here Jesus teenoor Gorasin, Betsäida, en Kapemaüm spreek, het allereers betrekking op die wonderwerke wat die Here in sy omgang ten aanskoue van die mense verrig het. Hierdie werke het by genoemde stede geen blywende indruk gelaat nie. Tog word hierdie wonderdade oorskadu deur die kragtige dade wat in die harte van mensekinders plaasvind. Hierdeur word siele gered en die mens se ganse lewe herskep. Ook hiervan was die inwoners van die onboetvaardige stede getuie, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.

Aanraking met Jesus het altyd een van twee moontlike uitwerkings: óf toenadering en oorgawe, of verharding. Laasgenoemde was, helaas, die geval met Gorasin en Betsäida, Daarom die verskriklike oordeel van die Here om hulle te vergelyk met Tirus en Sidon; stede wat in daardie tyd bekend was vir hulle verregaande goddeloosheid. Kapernaüm, die stad waar Jesus sy kinderjare deurgebring het, word vanweë sy afvalligheid vergelyk met die goddelose Sodom uit Abraham se tyd. Die meeste streke waar die Heiland vertoef het se inwoners het selfs groter afvalligheid getoon as die stede wat hierdie voorreg nie geniet het nie. Daarom sou hulle loon in die oordeelsdag ooreenkomstig hulle geleenthede ook swaarder wees (verse 23-24).

Dit is dus duidelik dat hoewel die verspeelde geleenthede om ons te bekeer ons reeds in hierdie lewe duur te staan kom, die volle uitwerking eers in die ewigheid gesien sal word. Eers hierna sal ons ten volle ondervind hoedat verharding van die hart die maat van God se ewige straf bepaal.

Wanneer die gordyn hier sak, beteken dit nie dat God se lankmoedigheid daarmee plek sal maak vir 'n tweede kans nie. Dan is die genadetyd verby. Goddelike lankmoedigheid word dan nie toegeeflikheid nie. 

Uit: Laat ons boekevat, deur ds HC de Wet
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css