Die Weg

 

Genadetyd

Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” - 2 Korintiërs 6:2.

Ongekende vrees het die wêreld beetgepak. Dat daar, volgens die Wêreld Gesondheid Organisasie (WGO), jaarliks 10 miljoen mense tuberkulose opdoen en jaarliks 1.5 miljoen aan die siekte sterf, het by ons verbygegaan. Vyftien persent van almal wat tuberkulose opdoen sterf uiteindelik daaraan. Dit was daar vér van ons af, dit het nie so vinnig versprei nie en dit het ons nie aangeraak nie. Maar noudat daar 'n siekte is wat selfs tot in ons eie binnekamers binnedring, nou pak die vrees ons beet. Dit dwing ons om die waarde van die lewe in sy regte perspektief te sien – om introspeksie te doen. Die mens is feilbaar, en is aan sy eie feilbaarheid uitgelewer as hy God vergeet.

Die mens het in 'n eie waan van grootheid begin leef. Dit kan ons sien in die woorde van professor Yuval Noah Harari van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem; 'n wêreldbekende visioenêr en raadgewer vir mense soos Barack Obama, Bill Gates en Angela Merkel. Harari het onlangs in 'n Nederlandse televisieprogram, met verwysing na sy boek, Homo Deus, gesê dat die mens op pad is om self god te word deur die toepassing van kunsmatige intelligensie en die wetenskap. Daardeur sal die mens, volgens hom, algehele geluk en onsterflikheid tot stand bring en goddelike kragte besit. 'n Artikel in hierdie verband het ook by Deutche Welle verskyn (On Homo Deus – sien hieronder).

Laat ons kyk wat die Bybel hiervan sê. Salomo het sy tempel vir God gebou. 'n Majestueuse gebou. Aanvanklik het die mense na die tempel gegaan om God te aanbid en te dien. Maar ons lees hoe die tempel eerder aanbid is as God (Jer 7:4-6,14). Toe het die HERE Nebukadnesar uit 'n ver land gestuur om die tempel te vernietig. Ook in die Nuwe Testament sien ons weer dieselfde gebeur. In Mattheus 24 staan die dissipels en bewonder die tempel wat deur Herodus herbou is. Jesus sê toe aan hulle:  “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Ongeveer 70 jaar later is die tempel weer verwoes.

Die mens van vandag het ook geweldige dinge tot stand gebring. Hulle wil hul eie god wees. Maar dan kom die virus en dwing die hele wêreld tot stilstand. Baie dinge waarop die mens sy hoop gebou het, begin wankel. Nie soseer deur die virus self nie, maar deur die groot vrees wat die wêreld beetgepak het. Waaroor die vrees? Vrees vir wat jy kan verloor, vrees vir die dood, of vrees om voor die regterstoel van Christus te verskyn?

Laat wat vandag in die wêreld gebeur vir jou as wegwyser dien na Christus. Dit is 'n oproep tot bekering, 'n oproep om die wêreld in goddelike perspektief te sien.

Dit is gepas om weer vir Billy Graham hier aan te haal:

“Ons is nou in genadetyd. God se aanbod van vergifnis en 'n nuwe lewe hou nog stand. Die deur gaan egter eendag toegemaak word. Dan gaan dit te laat wees. Dis waarom die Bybel gedurig waarsku: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Kor 6:2). Ons verkondig die evangelie en nooi mense om die genade van die Here Jesus Christus te leer ken, want die genadetyd is nog nie verby nie. Toe die vloed gekom het, was Noag veilig in die ark. Hy het God vertrou en Hom op sy woord geneem. Jy kan ook sekerheid kry vir jou lewe deur te glo en te aanvaar dat Christus aan die kruis gesterf het vir ons sondes en opgestaan het vir ons regverdigmaking. Vir ons wat gered word, is dit die krag van God tot saligheid (Vgl 1 Pet 1:5).

“Dit mag dalk bitter min sin maak vir hierdie sterwende wêreld, maar vir dié van ons wat Christus ken, is dit 'n bron van geweldige krag en heerlike vrede. Ken jy hierdie vrede? Jy kan dit vandag nog ervaar deur berou te hê oor jou sondes en Christus te aanvaar en lief te hê as jou Here en Verlosser. En jy kan dit sommer daar doen waar jy nou is, al is jy ook waar in die wêreld.”

-dw-

WGO:
https://www.who.int/health-topics/tuberculosis#tab=tab_1


Homo Deus: 
1. https://en.wikipedia.org/wiki/Homo_Deus:_A_Brief_History_of_Tomorrow
2. https://www.dw.com/en/harari-on-homo-deus-immortality-dataism-and-health-the-infinite-market/a-19523293
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css