Die Weg

 

Nou is die tyd om met jou siel te gesels

"Wees net maar stil tot God, my siel, ......" Psalm 62:6 (53-vertaling).

Dawid is hier in ‘n selfgesprek – hy praat met homself, hy rig die woorde tot sy siel: “Wees net maar stil tot God, my siel..

Hoe voortreflik is dit nie! ‘n Mens kan iets oor alles vir almal te sê hê, maar teenoor jou eie siel rep jy nie ‘n woord nie. As ons onsself wil wees, sal ons so af en toe tog ook 'n bietjie met onsself, ons eie siel, moet gesels. 'n Mens hoor dikwels: “ek kom net nie by myself uit nie”. Maar wil ons regtig by onsself uitkom? Dit lyk soms of baie mense hulself opsetlik wil vermy, of hulle op vlug is vir hulself. Hulle wil nie eintlik hulself wees nie. Hulle wil nie vir hulself in die spieël kyk nie - wil nie introspeksie doen nie (ds Gabe van Duinen).

In hierdie dae het ons genoeg tyd om by onsself uit te kom. Maar eers moet ons die televisie, radio en sosiale media wat paniek en negatiwiteit uitstraal, uit ons lewens ban. Dan is daar geen verskoning dat ons in 'n gejaagde wêreld leef nie. Inteendeel, die wêreld het nou tot stilstand gekom. Nou is dit tyd om met jou siel in gesprek te tree. En hoe sal jou siel nie verwonderd wees om soveel ongewone aandag te kry nie! En terwyl jy nou sit en die gedagtes aan die duisende dinge en mense waarmee jy altyd besig was, voor jou verbyflits, kan jy nou aan jou siel sê: “Wees net maar stil tot God . ...”

Laat ons daarom die tyd neem om stil te word.

En om stil te word in jouself voor God, is méér as net rustigheid. Jy doen nie niks nie. Want in jou stil wees tree jy in gemeenskap met Christus by die Vader. En voor Hom kan jy net jouself wees. Dan kom jy agter van “die goddelike rus wat net deur 'n stille gees ontvang kan word” (Friedrich von Schiller).

In die stilte roep God jou tot 'n eie persoonlike lewe wat nie deur die wêreld gedikteer kan word nie. By God is jy nie net 'n nommer nie. God werk nie met nommers nie, Hy roep jou op jou naam: “Ek het jou by jou naam geroep” (Jes 43:1). En hierdie wese, wie deur God by die naam geroep word, en wat jy “ek” noem (wat jy dalk so hard probeer het om nie te wees nie) is van só 'n onskatbare waarde, dat al die geld in die wêreld nie daarvoor kan betaal nie. Op hierdie naam geniet jy sy goddelike aandag. “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Matt 16:26). Nou is dit die tyd om dinge weer reg te stel en om te besef wát werklik saak maak in hierdie en die toekomstige wêreld.

Daarom: praat met jou siel! Wat jy vir jou siel te sê het, is jou saak. Maar jou siel het die reg op aandag. En as jy dít doen, mag jy vind: “Sekerlik, God is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.” (Ps 62:7-8; 53-vertaling).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css