Die Weg

 

Nehemia 9 – Staan op, loof die Here

(Lees Nehemia 9:1-6)

Toe die feesdae verby was, het die volk 'n vas- en biddag gehou. Deur grond op die hoof te strooi, het die boeteling bely dat hy “deur die misdade en sonde dood is” soos daar staan in Efesiërs 2:1. Die voorlesing het ongeveer drie uur in beslag geneem. Dit het hulle weer opnuut tot ontsteltenis oor hul eie sondes en dié van die volk gebring.

Kennis van die Woord van God toon aan ons hoever ons oortree het en te kort skiet. Hoe meer tyd ons bestee aan die lees van die Woord, hoe meer sal dit tot ons spreek. Ons kan nie elke dag te veel tyd afstaan nie, maar lees ons wel soms 'n uur of langer? Ons kan dit maklik op 'n Sondag of in die aand doen. Wanneer ons bv. 'n brief soos dié van Paulus aan die Efesiërs by herhaling deurlees, moet dit diep tot ons spreek. Daar is ook boeke wat ons kan help met Bybeluitleg. So het iemand wat die boek Esegiël as so moeilik beskou het, dit later goed verstaan en kosbare lesse daaruit geleer deur dit saam met ander te bestudeer.

Gemeenskap met die Here en sy Woord bring gewoonlik 'n diepe besef van ons eie nietigheid en sondigheid. Hoe meer ons bewus word van die Here se heiligheid, hoe meer voel ons of ons in die grond kan wegsink. Maar dan kom die woord: “Staan op. Loof die Here.” Wanneer ons besef wat ons is, en wat Hy van ons wil maak, dan kan ons nie anders as om Hom te loof nie.

Was dit nie mense se ondervinding deur al die eeue nie? Eers kom bewustheid van Hom, dan die besef van eie onwaardigheid, dan 'n oorweldigende vreugde in Hom en lofuitinge aan Hom.

Saulus het in die stof voor die Here se lig geval en die dwaling in sy lewe ingesien, en is deur die Here opgerig. Daarna het hy geen ander taal geken nie as: “Jesus Christus en Hom as gekruisigde” - as Verlosser. Sou ons dan nie die geneesheer wat uit pyn verlos, loof nie?

Die reeks oor Nehemia is geneem uit: 'n Lig vir my pad, deur Nig Sans (Christelike Uitgewersmaatskappy)  - terwyl ons op besoek is aan die Suid- en Oos-Kaap.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css