Die Weg

 

Nehemia 5 – Om in die vrees van God te wandel

(Lees Nehemia 5:1-19)

In Levitikus 25:17 lees ons hierdie woorde: “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God.” In vers 36 van dieselfde hoofstuk lees ons: “Jy moenie rente of wins van hom neem nie”; en in vers 42: “... hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie”.

Tog was dit hierdie dinge wat nou probleme binne die geledere van Nehemia se volk geskep het. Hulle het die vyand van buite die hoof gebied; nou was daar die vyand in eie geledere wat beveg moes word.

Dit was waarskynlik 'n tyd van swak oeste. Daarby het die bevolking in en om Jerusalem geweldig vermeerder deur die mense wat uit Babel teruggekeer het. Baie meer voedsel was nodig as tevore.

Om aan die lewe te kon bly, het ouers waarskynlik hulle kinders in tydelik slawerny oorgegee. Dit was vir die volk 'n skande dat van hulle eie volksgenote as slawe aan hulle verkoop is.

Die Jode wat in ballingskap was, het volgens vers 8, geld bymekaargemaak om van hulle stamgenote, wat in Babel as slawe verkoop is, vry te koop. Nou moes hulle dit hier aantref dat die Joodse leiers dit toelaat, ten spyte van die Wet van God.

Nehemia was verontwaardig en hy het kragtig opgetree. Hy het hom op hulle vrees vir God beroep: “ ... ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande.” Hulle moes die verkeerde dinge regstel tot eer van God. Hy het 'n voorbeeld gestel deur lenings kwyt te skeld. Hy het die wat landerye as pand geneem het, gevra om dit terug te gee. So oortuigend het hy by hulle gepleit dat hulle volgens sy woord gehandel het. Hulle sou aan aardse goedere verloor, maar hulle het geestelik gewen.

Is ons altyd gewillig om afstand te doen van dinge wat nie tot eer van God strek nie, selfs al sou ons stoflik daardeur verloor?

Die goewerneurs het gewoonlik ryk geword uit die belastings wat hulle ingevorder het. Dit het Nehemia egter nie gedoen nie. Ons het in die eerste gedeelte gesien dat dit die algemene gebruik was om geld te maak uit ander se verleentheid - feitlik misbruik te maak van hulle armoede. Nehemia moes hierdie toestand die hoof bied. Sy sterkste argument was sy eie voorbeeld. Hy het gesê: “So het ek, uit vrees vir God, nie gedoen nie.” Soos 'n Josef van ouds was dit sy verhouding tot God wat hom op die regte pad gehou het.

Wanneer ons alleen moet staan in wat ons weet reg is, kan ons dit nie uit eie krag doen nie, maar as ons dit doen “uit vrees vir God”, dan sal Hy ons die krag gee om dit te doen.

Daar was ontevredenheid en verwarring om Nehemia. Hy kon die pad aanwys omdat hy kon sê: “So het ek nie gedoen nie.”

Vandag is daar op baie gebiede verwarring. Ons jongmense word omring deur wêreldse sienswyses. Dinge wat deur die Skrif veroordeel word, word goedgepraat. Die argument word dikwels genoem: “Almal doen dit.

Vir Nehemia was die feit “dat almal dit doen” nie genoegsame rede waarom hy dit ook moes doen nie. Hy het nie soos die ander gemaak nie en nie daarop geroem dat hy so 'n goeie mens is nie. Nee, hy het sy krag uit sy Godsvrees geput.

Die reeks is geneem uit: 'n Lig vir my pad deur Nig Sans; Christelike Uitgewersmaatskappy (terwyl ons op besoek is aan die Suid- en Oos-Kaap).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css