Die Weg

 

Nehemia 2 - Laat ons klaarmaak en begin bou

(Lees Nehemia 2)

Volgens die tyd wat aangegee word, het daar ongeveer 4 maande tussen die gebeurtenisse in hoofstuk 1 en 2 verloop. Dit was vier lang maande vir Nehemia. Hy het gebid en gevas en gewag dat die Here vir hom die deur sou oopmaak.

Dit was moeilik om aan 'n Persiese hof opgeneem te word, maar nog moeiliker om weer eervol daaruit ontslaan te word. Dit sou ook vir Nehemia 'n bevestiging wees dat God hom stuur as die koning van sy kant eerste iets sou doen of sê. Daarom was Nehemia 'n oomblik uit die veld geslaan toe die direkte vraag van die koning na hom kom (v2).

Hy het eers van sy persoonlike leed gepraat omdat hy as persoon teenoor die koning gestaan het. Die koning se vraag het hom die geleentheid gegee waarop hy gewag het. Hoewel hy reeds die afgelope maande daarom gebid het, was hy 'n oomblik stil voor God asof hy Hom wou herinner: “Nou Here”.

Hy het sy begeerte goed geformuleer. Hy wou gestuur word. Dit sou hom later versterk wanneer teenslae kom.

Toe het hy briewe saamgevra. Dit sou sy veiligheid verseker. Dit was sy amptelike dokumente dat hy die reg het om daar te wees en op te tree. Laastens het hy gevra dat die nodige aan hom gegee sou word om die werk mee te gaan doen.

Vir elkeen wat vir die Here wil werk, is hier baie uit Nehemia se voorbeeld te leer. Soos Nehemia, moet ons eers die behoefte raaksien. Dit moet ons raak, só raak dat ons kan ween en bid en vas. Dan sal God vir ons 'n deur open om iets in verband daarmee te doen. Hy sal ons stuur.

Nehemia se reis het drie maande geduur. Hy het in Jerusalem aangekom en dinge eers goed deurgekyk: Dit was asof hierdie man elke keer voor hy iets doen op God gewag, met Hom beraadslaag en dan gedoen het soos hy gelei is.

Terwyl andere slaap, vind ons hom tussen die puinhope. Hy wou homself vergewis van die ware toestand. Daardie nag is 'n plan van aksie in hom gebore. Dit is aan hom gegee om te weet presies hoe hy te werk moes gaan. Die dag daarna het hy die leiers van die volk omtrent sy sending ingelig.

Hulle was dadelik gereed met hierdie mooi woorde: “Ons sal ons klaarmaak en bou.” Daar was seker al die jare die begeerte om dit te doen, maar dit het hulle ontbreek aan magtiging, aan voorrade en aan 'n leier. Toe, met Nehemia se koms, was alles wat nodig was, gereed. Hulle was gretig en gewillig om te help. Nie een het hom teen Nehemia verset of sy reg as leier in twyfel getrek nie.

In geestelike sin is daar ook baie mure waaraan ons kan dink. Mure wat ook dikwels verwoes lê: daar is die mure van jou eie siel en jou geestelike lewe. Die hart is 'n kosbare kleinood wat bewaar moet word. Christus bou kosbare mure daaromheen om Satan en die sonde uit te hou. “Bewaak jou hart, meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spr 4:23).

Daar is ook die mure van die godsdienstige lewe. Hou dit nog stand? Wat is ons aandeel daarin? As jy besef dat die geestelike lewe in jou familiekring, of gemeenskap, of land in 'n puinhoop lê - wat doen jy daaromtrent? Raak dit jou sodat jy soms wakker lê? Raak dit jou sodat jy dit in gebed voor God noem?

Weet dan dat God jou wil gebruik om dit te help opbou. As ons die las op ons hart neem, open Hy 'n deur - Hy gee aan ons 'n geleentheid.

Die reeks oor Nehemia is geneem uit: 'n Lig vir my pad, deur Nig Sans (Christelike Uitgewersmaatskappy)  - terwyl ons op besoek is aan die Suid- en Oos-Kaap.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css