Die Weg

 

Die hemel geopen

Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. 'Kyk,' het hy gesê, 'ek sien die hemel geopen'” - Handelinge 7:55-56.

Ons sien in Handelinge 6 hoe Stefanus, vol van die Heilige Gees, met die Jode argumenteer. Hulle is nie opgewasse teen hom nie en daarom koop hulle mense om om te sê: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster”( v6). Hy word voor die Joodse Raad gebring. Aanvanklik luister hulle belangstellend na wat Stefanus sê.

Soos Petrus gaan haal hy sy bewyse uit die vroegste geskiedenis van Israel. Abraham, Isak, Jakob, Moses. Hy wys hulle op die ongehoorsaamheid van die volk toe Moses sy rug gedraai het (Hand 7:39). Hy wys hulle op die vaders se aanvanklike onwilligheid om Moses te volg (Hand 7:35). Hy wys hulle op Dawid wat vir die Here 'n huis wou bou, want God was vir hom “goed” (Hand 7:46). En hy wys hulle op die profete, die een na die ander, wat God gestuur het om met hulle te praat. En dan kom die verdoemende vraag aan die geleerdes wat hulle so op die wet en die profete beroep en beroem het: Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie?

'n Mens kan nie eintlik aan so iemand dink nie. Al die mense van God het met weerbarstigheid en ongeloof te doen gekry. Aan die begin was dit 'n verset teen die wet. Toe het hulle weer die wet begin vergoddelik uit vrees vir 'n volgende ballingskap. Deur die geslagte gaan dit so: die mense praat saam met die mode-politiek en mode-godsdiens van die dag. Wee die een met God in sy hart, wat begin vrae stel oor gewone daaglikse dinge wat verkeerd is.

Miskien het Stefanus hulle te hard met sy tong geslaan. Maar die waarheid slaan altyd hard, ook vir jouself. Die groot reël geld altyd dat jy eers die oordele wat jy oor ander uitspreek oor jouself uitspreek. Die profete het dit gedoen. Stefanus ook. En uiteindelik seëvier die Here.

Die Joodse Raad was woedend, tot so 'n mate dat hulle op hul tande “gekners” het. Hulle het hul ore toegedruk vir alles wat Stefanus gesê het, op hom afgestorm en hom by een van die stadspoorte gestenig. Vandag nog wys gidse jou daardie plek waar die eerste martelaar vir Christus met klippe doodgegooi is. Geleerde en geëerde mense kan soms nogal barbaars word. Billy Graham vertel dat sy vrou 'n Christelike klub by haar “liberale” universiteit wou stig. Sy moes volgens die professore daarvan afsien, want “dit sou aanstoot gee”. Soms is mense so gesteld op die vryheid van opinie dat net hulle eie opinie eintlik vryheid het!

Stefanus sterf onder die klippe vir sy opinie. Maar hy sien iets wat min sterflinge beskore is. Hy sien 'n opening in die hemel. In sy laaste oomblikke voel hy nie die woede van sy vervolgers of die klippe van die wat hom stenig nie, want hy is met iets anders besig; iets oneindig groter, iets oorweldigends, iets buite ruimte en tyd. Daar kom voor sy oë 'n opening en sy bestemming word vir hom duidelik. God het as't ware vir 'n oomblik deur ruimte en tyd en dimensies geskeur om sy getuie te help en te troos met 'n hemelse visie van Homself. Stefanus sterf eintlik in sielsverrukking, met woorde van vergifnis op sy lippe.

Dit herinner aan die laaste woord van 'n geliefde oom: “Ek sien die hemelpoort geopen en ek gaan instap.” Dis 'n voorreg. En vir ons wat lewe, is dit 'n versekering: ek het 'n eintlike adres in die ewigheid. Ek het 'n bestemming. Ek het 'n God wat omgee. Ek het 'n lewe waaraan daar geen einde is nie.

Uit: In die Teenwoordigheid van God, deur Izak de Villiers - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (cumuitgewers.co.za)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css