Die Weg

 

Habakuk – die man op die wagtoring

“Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.” - Habakuk 2:1 (53-vertaling).

Soos wat elke mens sy probleme het, so het ook Habakuk sy eie probleme gehad. Maar Habakuk het nie sy probleme aan die groot klok gehang nie! Hy het dit na sy “wagtoring” geneem: die toevlugsoord van die siel, die plek waar ons ons onttrek van die wêreld. Dáár het hy die antwoord van God gaan inwag. Die probleem wat hom gekwel het, is iets wat van oudsher af al bestaan het! Dit is die altyd terugkerende raaisel van die Godsbestuur: Habakuk kon maar nie begryp hoekom God die onreg toelaat nie; dat God swyg terwyl die stem van die verdruktes na die hemel roep. Veral die onreg wat sy eie koning Jojakim pleeg teenoor die armes en hulle wat geen regte het nie. En dan ook die druk wat die Chaldeërs op die hele volk uitoefen!

Het hy enige lig gesien?

Nie in die sin dat hy gesien het dat dinge verander nie. Alles het maar net dieselfde gebly. Maar uit sy wagtoring het hy van ver af die Christus gesien (Hab 2:3) wat ook in die Nuwe Testament in die brief aan die Hebreërs herhaal word: “Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.” (Heb 10:37; 53-vertaling).

Christus is die wêreldredder en wêreldregter, en deur Hom “sal die berge vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid.” (Ps 72:3;53-vertaling).

Habakuk het nie vir Christus gesien nie, maar soos Abraham wat rondgeswerf het, het hy geglo aan die stad met fondamente (Heb 11:8-10). “Die regverdige sal deur die geloof lewe” – Habakuk was die eerste persoon wat dit neergeskryf het (Hab 2:4) (vgl Rom 1:17 en Gal 3:11). Die geloof ruim nie alle moeilikhede uit die weg nie, maar dit bied 'n veilige deurtog. En ook nie net 'n veilige deurtog nie, maar ook 'n deurtog gevul met vrede en vreugde. Die boek Habakuk eindig naamlik met 'n gebed, wat oorgaan in 'n lied. Dit is die lied van die pelgrimsreisiger na die ewigheid:  “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” (Hab 3:17-19; 83-vertaling).

Ds H Veldkamp in “Ontmoetingen” van GN Lammers (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css